NewsNews

Koepel verloor sy geliefde vonkprop-versamelaar en bobaas storieverteller

Die geliefde inwoner, kenner en bobaas verteller van staaltjies van die Vredefort Koepel-omgewing, oom Louwtjie Jansen van Rensburg, is Saterdagaand 23 Julie 2016 oorlede. Almal wat hom geken het, het hom die bynaam van “Oom Louwtjie die Vonkpropman” gegee, want sy vonkpropversameling was sy passie en trots en was oral bekend. Saam met sy eggenote, Susan, sy dogter Elna en kleinkinders, Stephan, Sunita en Lindi, het hy ʼn tuiste van liefde en vriendskap geskep vir almal wat hom geken en besoek het. Hy en Tannie Susan het op 24 Desember 2015 hulle 60ste troudag herdenk.

Die geliefde inwoner, kenner en bobaas verteller van staaltjies van die Vredefort Koepel-omgewing, oom Louwtjie Jansen van Rensburg, is Saterdagaand 23 Julie 2016 oorlede. Almal wat hom geken het, het hom die bynaam van “Oom Louwtjie die Vonkpropman” gegee, want sy vonkpropversameling was sy passie en trots en was oral bekend.
Saam met sy eggenote, Susan, sy dogter Elna en kleinkinders, Stephan, Sunita en Lindi, het hy ʼn tuiste van liefde en vriendskap geskep vir almal wat hom geken en besoek het.
Hy en Tannie Susan het op 24 Desember 2015 hulle 60ste troudag herdenk.
Wanneer iemand vir jou vra “Wat kan jy my vertel oor oom Louwtjie van Rensburg van die plaas Helena in die Koepel omgewing?” kom honderde gedagtes en stories na vore.
Hy was ʼn afstammeling van die Tierkop van Rensburgs en is op 19 Julie 1929, op die plaas Helena, gebore. Vandaar het sy lewensreis begin en dit is so veelsydig dat ʼn mens besef dat daar ʼn groot leemte met sy afsterwe gelaat word. In vroeëre jare het hy onder andere geboer met tabak en mielies en daar was selfs op ʼn stadium ʼn hoenderboerdery wat grootliks deur hom en tannie Susan behartig was.
Hy was ʼn ywerige versamelaar van artikels wat daagliks in en om die huis gebruik is. Mense kom van heinde en verre om sy groot antieke versamelings van toeka tot nou te kom besigtig.
Vanweë sy veelsydige belangstelling en menige stories, wat op die agterstoep van die plaashuis uitgeruil is, het elke kuiergas besef dat wanneer jy daar kuier, het tyd nie brieke nie.
Die bekende vonkpropversameling, wat hy as stokperdjie begin het, het later wêreldwye belangstelling uitgelok. Hy en Tannie Susan was gereelde uitstallers van die vonkpropversameling by van ons grootste motorskoue en toeskouers kon nie uitgepraat raak oor die groot verskeidenheid nie. Elke vonkprop het deur oom Louwtjie se hande gegaan. Te veel om te tel maar in die versameling is daar meer as 2 500 en nie een is dieselfde nie!
In 2011 word sy boek “ʼn LEWE IN DIE KOEPEL” gepubliseer en was dit ʼn hoogtepunt in sy lewe. Verder is daar, in sy eie handskrif, gedigte en stories wat nog nie gepubliseer is nie. Daar word gesê dat wanneer so ʼn persoon sterf, brand ʼn biblioteek van stories, herinneringe en kennis af.
Die uurglas het leeggeloop maar die herinneringe aan oom Louwtjie sal altyd bly voortleef. Hy was ʼn waardige mens en so onthou sal word.
Oom Louwtjie was 87 jaar oud. Die begrafnis is Vrydag 29 Julie om 10:00 vanuit die NG Kerk Vredefort.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button