NewsNews

Val stuit ruiter nie vir yskoue Fauresmith-uitdaging

Die jaarlikse 205km Nasionale kampioenskappe vir perde uithouritte is van 5-7 Julie in koue winderige weer in Fauresmith gehou en twee Parysenaars, Jaco en Minette Nortman, het weer hul slag gaan wys.

Die jaarlikse 205km Nasionale kampioenskappe vir perde uithouritte is  van 5-7 Julie in koue winderige weer in Fauresmith gehou en twee Parysenaars, Jaco en Minette Nortman, het weer hul slag gaan wys.
Die rit word oor 3 dae aangebied met nagenoeg 76km wat op die eerste dag gery word, 76km die tweede dag, en 54km vir die laaste skof.
Dit was Jaco se 11de deelname en Minette se 9de keer dat sy gery het. Perd en ruiter moet vooraf kwalifiseer om te mag deelneem. Deur die jaar word kwalifiserende ritte regoor die land aangebied, en moet daar aan sekere kriteria voldoen word.
Die perd se welstand tydens die rit word streng gemonitor met 9 veearts kontrolepunte waardeur beweeg moet word langs die roete, maar ook by die eindpunt.
By die kontrolepunte word onder meer gekyk dat die perd nie mank is nie, hidrasie normaal is, die perd se pols maksimum 64 is en metabolies normaal is. Die pols gee ’n  direkte aanduiding van die perd se fiksheidsvlak en vermoë om vinnig te herstel ná harde oefening – só ook die algemene metaboliese toestand.
‘n Pols wat hoog bly is ‘n goeie aanduiding dat die perd êrens onderlangs besig is om ’n  probleem te ontwikkel en moet verder deur die veeartse ondersoek en behandel word. Dit beteken ook ’n  onmiddelike diskwalifikasie.
Minette het 4de geeïndig in die standaard gewig afdeling, en Jaco 4de in die swaargewig afdeling. In ag genome dat daar ruiters is wat vir jare ry en nog nooit onder die top 10 posisie kon eindig nie, is dié Nortmans se prestasie baie goed. Beide Minette en Jaco het die afgelope 3 jaar elke jaar onder die top 10 ruiters geeïndig. Dit is die 6de keer dat Jaco met JNM Kalista, sy perd deelneem aan die rit en het 4 keer top 10 gery. Dit opsigself is ’n  prestasie, want daar is bitter min ruiters wat met dieselfde perd meer as 3 keer aan die rit deelneem.
Minette het die laaste 3 jaar elke jaar met ‘n ander perd deelgeneem en elke keer top 10 gery. Dis die eerste keer wat sy met die perd JNM Thee Avalanche wat sy gery het, aan ’n  rit deelneem. “Dit is my eie perd en ek het geweet hy het potensiaal, maar het net self deur die jaar nie tyd gekry om hom te kwalifiseer. ’n  Vriendin van my het saam met my gery en hom gekwalifiseer. Ek’t baie baie amper nie gery nie. Ses dae voor die rit met my laaste oefening hier op die plaas het hy gestruikel en gerol teen ’n afdraende,” vertel Minette.
Ná die harde val was Minette vol kneusings en hematome, maar sê sy, sonder ’n  selfoon ry sy nie weer nie, en het sy net weer besef hoe gevaarlik die sport kan wees.
Om weer op die perd te klim na die val was ook nie maklik nie, vertel Minette, wat eers 2 dae voor die rit by Fauresmith weer opgeklim het. Die saal het op die kneusings op haar been gedruk en dit was eenvoudig net té seer.
Maar toe Jaco haar die aand laat voor die rit vra of sy wil onttrek, het sy besluit om maar van punt tot punt tussen die veearts kontrolepunte te probeer ry, en as dit nie werk nie, dan te onttrek. Die fisioterapeute wat die perde behandel het haar elke dag met laser behandel en was die pyn meer draaglik.
Op dag 1 was Minette in die 17de posisie, die 2de dag het sy 3de ingekom en die laaste dag 2de. Gesamentlik oor die 3 dae het sy 4de geeindig.
“Omdat ek die perd nog nooit op ’n  rit self gery het nie was ek bang om vinniger te ry, want ek het nie geweet tot wat hy instaat is nie. Ek was vrek vrek bang vir val. As dit net gelyk het of dit ‘n skerp afdraande is het ek probeer stap. Dit is mos maar erg berg en klipperige terrein waardeur ons ry,” gesels Minette oor haar rit.
Daar was 369 perde wat weggespring het. Op die voorrit veearts inspeksie het van die perde al uitgeval en nog ’n  verdere 37% tydens die rit – effens minder as ander jare.
Jaco en Minette het vir die Noordwes span gery en is deel van die Potchefstroom Uithouritklub. Albei is weer gekies vir die Springbok span vir die Walvisbaai 120km rit wat in Augustus plaasvind.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button