NewsNews

Dorp loop deur onder misdaadvlaag

Parys het die afgelope week maar veral die naweek weer erg deurgeloop onder misdaad. Twee voertuie en ’n sleepwaentjie is gesteel. Op 11 Julie is ’n Quantum minibussie uit ’n erf in Reuniestraat gesteel, terwyl die Venter sleepwaentjie uit ’n erf in Fickstraat op die 14de Julie gesteel is. Net die volgende dag is ’n Toyota Hilux bakkie helder oordag tussen 11:00 en 14:00 by ’n besigheidsperseel in Kruisstraat gesteel.

Parys het verlede week maar veral die naweek weer erg deurgeloop onder misdaad.
Twee voertuie en ’n  sleepwaentjie is gesteel. Op 11 Julie is ’n Quantum minibussie uit ’n  erf in Reuniestraat gesteel, terwyl die Venter sleepwaentjie uit ’n  erf in Fickstraat op die 14de Julie gesteel is. Net die volgende dag is ’n Toyota Hilux bakkie helder oordag tussen 11:00 en 14:00 by ’n  besigheidsperseel in Kruisstraat gesteel.
Sondagoggend net nadat Ackermans in Middelstraat sy deure vir kliënte oopgemaak het, het ’n man die winkel binnegekom en een van die personeellede vir selfone gevra. Toe sy verkeerdelik verstaan het dat hy ’n  selfoon wou koop en om sy identifikasie gevra het, het die man ’n  vuurwapen uitgepluk en nog twee van sy makkers wat toe alreeds in die winkel was, het nader gekom.
Die personeel en kliënte in die winkel is na een van die store agter in die winkel gedwing waar die personeel toe aangesê is om die kluise oop te maak. As gevolg van ’n  tydvertraging op die slotte het die rowers nie kon kry wat hulle gesoek het nie, en is hulle weg met ’n  aantal selfone wat uit ’n  kabinet gevat is, kontant wat by ’n kliënt en uit die bestuurder se beursie gevat is, asook ’n kliënt se selfoon. Niemand is tydens die roof beseer nie.  Die drie het met ’n voertuig wat buite vir hulle gewag het, gevlug. Die voertuig was ’n donkergryskleurige Volkswagen Jetta.
Enigeen wat moontlik inligting het wat die polisie kan help in hul ondersoek word gevra om sonder versuim 082 554 3041 of 082 466 8094 te skakel.
Sondagaand is ’n  62-jarige vrou in Boomstraat in haar huis oorval nadat die twee inbrekers ’n  venster by die lapa gebreek het. Hulle wou geld hê waarop die vrou aangedui het dat haar handsak in die kamer was.
Die vrou se hande is vasgevind en sy is toe na die slaapkamer gedwing waar haar handsak was. Die mans het volgens die polisie oënskynlik geskrik vir iets en is kort daarna met net ’n  sak met skoene by dieselfde ruit uit. Die sak is in die straat opgetel.
Die vrou kon self daarin slaag om haar hande los te kry en het die polisie en sekuriteitsmaatskappy ontbied.
Die mans is steeds soek.
*Die liggaam van ’n  16-jarige is Donderdagaand in ’n  boom op die h/v Grens- en Breëstraat gekry. Hy was reeds dood toe daar op sy liggaam afgekom is. Geen gemene spel word vermoed nie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button