NewsNews

Uit my dagboek: Nuwe pa: Dit is moeilik

Die eerste keer wat jou baba vir jou glimlag wonder jy of jy ooit vir dié gesiggie sal kwaad word. Teen die tyd dat jy vir die duisendste keer moet sê ‘nee’ of in die middernagtelike ure moet wakker wees omdat die engelgesiggie nie in sy eie bed wil slaap nie, dan besef jy dat dit moontlik is om kwaad te word vir ‘n baba.

Die eerste keer wat jou baba vir jou glimlag wonder jy of jy ooit vir dié gesiggie sal kwaad word.
Teen die tyd dat jy vir die duisendste keer moet sê ‘nee’ of in die middernagtelike ure moet wakker wees omdat die engelgesiggie nie in sy eie bed wil slaap nie, dan besef jy dat dit moontlik is om kwaad te word vir ‘n baba.
Ek en my vrou moet onsself maar kalmeer wanneer die geteem begin. Ons maak seker alles is reg – ‘n skoon doek, ons gee water vir boeta as hy dors is, sy fopspeen word aangebied, maar al wat help is om hom op te tel en saam met ons in die bed te sit. Dit is natuurlik nie wenslik nie, omdat ons dan nie regtig kan slaap nie. Hy moet ook leer om in sy eie bed te slaap, maar as jy weet jy moet binne ’n paar ure opstaan vir werk, dan doen mens enige iets om net ’n bietjie rus te kry. Nou moet hy eers sy lê kry, wat voel asof dit nog ’n uur neem. As hy nie sy lê kry nie, dan begin hy weer huil. Teen dié tyd is my en my vrou se gemoed al diep in die rooi ‘gerev’. Naderhand begin ons met mekaar stry oor wat moontlik die probleem kan wees. Is hy stout? Bederf? Honger? Dors? Ons kan nie agter die kap van die byl kom nie. So ons probeer maar troos. Kort voor opstaan tyd is boeta weer aan die slaap. Net as ons dink ons raak aan die slaap, gaan die wekker af. Moedeloos sleep ons maar ons moeë lywe uit die bed uit, met bloedbelope oë maak ons koffie en pak Aiden se skoolsak. Ons kan nie nog lê nie, iemand moet gaan geld verdien om seker te maak Aiden het alles wat hy nodig het. Wat doen hy? Hy slaap salig tot ons hom wakker maak om te ry. Soos Bill Gates gesê het: “Voor jy gebore was, was jou ouers nie so vervelig soos hulle nou is nie. Hulle het so geword deur elke dag te gaan werk om al jou rekenings te betaal en jou klere te was.” Om ’n ouer te wees is nie maklik nie, en mens raak soms kwaad vir jou bondeltjie liefde. Maar aan die einde van die dag is dit die moeite werd.

Related Articles

Back to top button