NewsNews

Begroting goedgekeur, maar steeds geen voorsiening vir Eskom skuldlas

Die Stadsraad van Ngwathe het eers op die laaste dag verlede maand sy nuwe 2016/17 begroting goedgekeur. Gazette het vroeër berig dat verskeie konsep-begrotings, die een na die ander, die afgelope maande terugverwys is.

Die Stadsraad van Ngwathe het eers op die laaste dag verlede maand sy nuwe 2016/17 begroting goedgekeur. Gazette het vroeër berig dat verskeie konsep-begrotings, die een na die ander, die afgelope maande terugverwys is.
“Die vorige pogings het gewemel van weglatings, teenstrydighede, en onhoudbare aannames,” sê DA-koukusleier Arnold Schoonwinkel. “Amptenare se foute het raadslede se tyd, en hul eie, gemors.” Hy sê burgemeester Joey Mochela was toe genoop om ’n  buitengewone Taakspan van raadslede aan te stel om oorsig oor die begrotingsproses te verbeter.
Selfs personeellede van die Provinsiale Tesourie en ook van die Ouditeur-Generaal, moes kom hand bysit.
Die begroting is Vrydag toe eenparig goedgekeur, maar volgens Vryheidsfront Plus rdl. Philip van der Merwe, maak dit steeds geen voorsiening vir kapitale delging op die enorme Eskomskuld nie. Van der Merwe sê alle raadslede, ook van die ANC, kla steeds oor die gebrek aan effektiewe optrede om kragdiewe vas te vat, boekhouding te verbeter, en agterstallige skuld in te samel.
Opposisieraadslede waarsku jare lank al teen finansiële wanbestuur in Ngwathe. “Kragverkope was vroeër winsgewend vir Ngwathe, en tot agt jaar gelede nog het Ngwathe omtrent ‘n miljoen rand per maand wins uit elekrtisiteitsverkope gemaak, wat weer aan ander dienste bestee kon word. Maar nou verloor Ngwathe soveel as R8m per maand daarop.
Rdl Van der Merwe hoop dat Eskom hierdie probleem dalk vir Ngwathe gaan oplos. “Ons verneem Eskom gaan dalk Ngwathe se elektrisiteitsverkope en distribusie in die toekoms self hanteer. Op sterkte daarvan het opposisiepartye besluit om wel die begroting te steun. Nersa moet nou die voorgestelde tariewe vir elektrisiteit goedkeur, en die nuwe erfbelasting moet gepromulgeer word, soos wetlik vereis, ten einde dit te kan invorder.”
Munisipale belasting asook die diensgelde vir riool en vullis styg met 6.6%, terwyl water styg met 8.4%, en elektrisiteit met 9.4%. Die totale uitgawes word begroot op meer as R700m, wat waardevermindering insluit. Die nuwe tariewe het vandeesmaand (op 1 Julie) in werking getree.

Related Articles

Back to top button