NewsNews

“Ons gaan nog ski, en dis ’n afspraak”

Ski in Lesotho en ‘off road’ 4 x4 pret met die rolstoele as dit weer lekker warm is. Dit is die afspraak wat sanger Mathys Roets in die hospitaal met die dapper 16-jarige Divan Groenewald van Parys gemaak het toe hy hom verras het met ’n besoek in die hospitaal ná Divan se heupvervangingsoperasie.

Ski in Lesotho en ‘off road’ 4 x4 pret met die rolstoele as dit weer lekker warm is. Dit is die afspraak wat sanger Mathys Roets in die hospitaal met die dapper 16-jarige Divan Groenewald van Parys gemaak het toe hy hom verras het met ’n  besoek in die hospitaal ná Divan se heupvervangingsoperasie.
Divan is nou tuis waar hy aansterk, maar daar wag nog baie oefening, fisioterapie en ook waterterapie sodra dit warmer is, op hom om die been weer sterk te maak.
Ma Juanita vertel dat Divan se heup ontwrig was, maar dat dokters vasgestel het dat die skade eintlik veel groter is met die heupbeen wat reeds erg verweer was. ’n  Heupvervanging was onvermydelik.
Desondanks geweldige pyn wat hy moes verduur het, het Divan nooit gekla nie, en loop hy al van voor sy rugoperasie in Maart met die ontwrigte heup. Hy moes egter eers aansterk ná sy rugoperasie voordat aan die heup gewerk kon word.
Mathys en Divan het juis in April vanjaar mekaar op die gholfbaan raakgeloop waar Mathys die gholfdag kom ondersteun het wat ten bate van hierdie dapper jong man gehou is om te help met sy geweldige hoë mediese koste.
Divan ly aan ’n  baie raar siektetoestand wat in so min as 70 gevalle wêreldwyd aangemeld is.
Hy ly aan Mohr Tranebjearg-sindroom, ’n  degeneratiewe siekte wat op die ouderdom van 3 jaar by hom gediagnoseer is. Op die ouderdom van ’n  jaar het hy al begin bril dra, en vandat hy 3 jaar oud was, moet hy ook staatmaak op ’n  gehoorapparaat.
Mettertyd kon Divan nie meer sonder hulp loop nie, en kan hy net met ’n  rolstoel oor die weg kom
In Maart moes Divan die rugoperasie ondergaan om skade te herstel as gevolg van skoliose en kifose wat die funksionering van sy longe, hart en ingewande nadelig geraak het.
Tydens die gholfdag vir Divan het Mathys ook vir hierdie jong man die geleentheid gegee om self ’n  hou op die gholfbaan te slaan in sy spesiaal aangepaste rolstoel.
Al is hul albei afhanklik van hul rolstoelwiele, deel hul veel meer as net die glimlag waarmee hulle die wêreld vierkant in die oë kyk. Maak nie saak wat die uitdaging of omstandighede, die twee van hulle maak seker dat hulle elke geleentheid wat hul kry om ten volle te leef, met albei hande aangryp.
En met só ’n  ingesteldheid kan jy maar weet een van die dae is die twee aan die ski in Lesotho.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button