NewsNews

Pa en seun boet lewenslank vir marteling en moord

Die 55-jarige Koen van Aswegen en sy oudste seun JR (22) sal lewenslank boet vir die moord op die 47-jarige Parys-sakeman, Craig Marx, wat op 4 Desember 2014 wreed gemartel en vermoor is nadat hy onder valse voorwendsels na die huis van een van sy moordenaars gelok, aangerand en beroof is.

Die 55-jarige Koen van Aswegen en sy oudste seun JR (22) sal lewenslank boet vir die moord op die 47-jarige Parys-sakeman, Craig Marx, wat op 4 Desember 2014 wreed gemartel en vermoor is nadat hy onder valse voorwendsels na die huis van een van sy moordenaars gelok, aangerand en beroof is.
Die lewenslange dubbel vonnis vir die moord en roof met verswarende omstandighede wat samelopend  uitgedien sal word, is vandag (Vrydag 1 Julie) deur waarnemende regter, Lani Opperman in die rondgaande Hoë Hof in Parys opgelê.
Die hof was egter meer genadig teenoor die 19-jarige David Kuyler en die 18-jarige Nicolai van Aswegen, broer van Jr en seun van Koen. Albei is tot 36 maande korrektiewe toesig gevonnis met ’n  addisionele 7 jaar gevangenisstraf opgeskort vir 5 jaar vir die roof, asook 36 maande korrektiewe toesig en 12 jaar gevangenisstraf opgeskort vir 5 jaar vir die moord. Die vonnisse is ook samelopend wat beteken dat beide effektief 36 maande korrektiewe toesig sal deurloop. Die gevangenisstrawwe tree in werking sou hulle hul skuldig maak aan enige diefstal, roof, roof met verswarende omstandighede of poging daartoe, ongeag hoe gering die oortreding, asook moord, aanranding, aanranding met die opset om ernstig te beseer of enige pogings daartoe binne die volgende vyf jaar.
Regter Opperman het Koen en JR se aansoek om verlof tot appél geweier. Hulle is ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te mag besit.
Rou snikke van Drienie van Aswegen, eggenoot van Koen, en ma van JR en Nicolai, het kort ná vonnisoplegging, die seer weergegee wat sy ervaar het toe die gesin uitmekaar geruk is deur die onbesonne daad wat op 4 Desember gepleeg is en waarvan sy tot vandag nie die volle waarheid weet nie, luidens haar getuienis vroeër in die hof.
Regter Opperman het in haar vonnisoplegging geen doekies omgedraai oor die feit dat die hof se vonnis vir Koen en JR grotendeels gebaseer is op hul eie getuienis.
Sy was ook duidelik dat dit uit die saak geblyk het dat David en Nicolai, hoewel betrokke by die beplanning en daad, moord nooit op hul agenda was nie. Sy het ook gesê dat was dit nie vir die verslag van mnr. Johannes van der Merwe, maatskaplike werker van Departement Korrektiewe Dienste wat ’n  duideliker prentjie geskets het van David se omstandighede nie, die hof hom waarskynlik ook lewenslank sou vonnis, omdat daar geen getuienis was om hom van lewenslange vonnis te vrywaar nie. David het gedurende die verhoor van sy swygreg gebruik gemaak en was sy ook krities omdat die hof moes ingryp met maatskaplike en korrektiewe verslae wat die saak laat sloer het in ’n  poging om seker te maak reg gekied.
David was egter die enigste van die vier beskuldigdes wat kontak gemaak het met Ella van der Schyff, gewese verloofde van die oorledene, en wie in Van der Schyff se eie woorde, opreg aan haar verskoning kom vra het oor wat gebeur het. Sy besoek aan haar het eers aan die lig gekom met Van der Merwe se saamstel van die korrektiewe verslag.
Regter Opperman was duidelik daaroor dat hoewel Nicolai en David se jeugdige ouderdom ’n  oorwegende faktor was in vonnisoplegging, hul vonnisse nie die idee moet skep dat mense kan maak soos hul wil en daarmee wegkom nie, “Vonnis moet in belang van die gemeenskap wees,” het sy gesê en genoem dat sy haarself dikwels moeilik versoen met die feit dat sy mense as regter sien op hul beste, maar ook op hul slegste en soms wonder hoe dit bymekaar kom.
Sy het ook gesê dat dit ’n  wrang smaak laat dat een van die X-box’e wat direk na die moord by ’n  inkopiesentrum in Potchefstroom gekoop is, bedoel was as verjaardaggeskenk vir David wat 2 dae voor die moord 18 geword het.
Regter Opperman het na JR se getuienis in die hof dat hy per ongeluk vir Marx versmoor het, as bisarre verwys en dit duidelik gestel dat hy geen berou of insig in sy dade getoon het nie. Trouens, hy het doodluiters nog ’n  krieketoefening gaan bywoon ná die daad. Hy het ook ten spyte van sy pa se versoek om sy planne om Marx leed aan te doen, hardnekkig geweier.
Dit was ook hy wat Van der Schyff vir dae om die bos gelei het met selfoon boodskappe om haar te laat glo dat Marx nog leef en dit goed gaan met hom.
Sy’t hom as ’n leier beskryf wat nie beïnvloedbaar is nie, en ook die aanhitser was.
Wat Koen aanbetref het regter Opperman weer verwys na die sterk vaderfiguur wat hy vir die seuns was, dat hy vrees by hulle ingeboesem het om nie te praat oor die voorval nie, die aanranding en moord fyn beplan het uit gierigheid, en selfs die polisie om die bos probeer lei het.
Koen het tot op die einde sy aandeel in die moord en aanranding ontken en sy rol op JR blameer.
André Kruger, skoolmaat van Nicolai en David, het as staatsgetuie opgetree en is nie vervolg nie. Dit was ook hy wat die toneel uitgewys het waar Marx se liggaam, toegedraai in kleefband, plastiek en sakke, in ’n stormwaterpyp langs die Kopjeskraalpad versteek is.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button