NewsNews

Gesin vertel van wonderwerk ná advertensie oor Annie se verdwyning

Die hartseer van 'n troeteldier wat spoorloos wegraak is 'n seer waarmee die De Swardt-gesin van Parys die afgelope tien dae moes loop, maar vir dié gesin het hul storie gister (Donderdag 30 Junie) 'n baie gelukkige einde gehad toe Annie, die 7 maande oue Boerboel tefie teruggevind is danksy 'n advertensie in die Parys Gazette.

Die hartseer van ‘n troeteldier wat spoorloos wegraak is ‘n seer waarmee die De Swardt-gesin van Parys die afgelope tien dae moes loop, maar vir dié gesin het hul storie gister (Donderdag 30 Junie) ‘n baie gelukkige einde gehad.  Annie, die 7 maande oue Boerboel tefie is teruggevind  danksy ‘n advertensie in die Parys Gazette.

Annie het van die De Swardts se perseel in Carl Prellerstraat in die nywerheidsgebied van Parys,  spoorloos verdwyn op 20 Junie na 16:00 die middag.  Daar is oral na haar gesoek – in die nabygeleë begrafplaas, oop velde agter die begrafplaas, Schonkenville en Tumahole woonbuurte,die hele bokant van die dorp, maar sonder enige sukses.

Wilner de Swardt, Annie se eienaar, was oppad terug van Angola en het eers die 22ste Junie in Parys gearriveer.  Vir die De Swardts is hul honde soos eie kinders en hul kommer oor Annie het by die dag meer geword juis omdat sy so vriendelik is en letterlik saam met enigiemand sou loop wat haar aan ‘n leiband vat.  Wilner en sy pa, Arno het Annie elke dag, vir 10 dae aaneen gesoek. 

Selfs kleur pamflette  is versprei waar ‘n beloning aangebied  is vir inligting wat sou lei tot die terugvind van Annie, maar helaas geen spoor. Leidrade en inligting was daar wel,  met talle mense wat tot 23:00 die nag gebel het met moontlike inligting wat kon help in die soektog na Annie. “Ek het ook dieselfde pamflet op die Parys DBV en Parys Nuus en Inligting se Facebook blaaie geplaas.  Ons het persoonlik na die DBV gegaan en hulle inligting gegee oor Annie.  Ons het deurgaans wonderlike bemoediging en ondersteuning van die Parys gemeenskap ontvang en almal wat kon, het my “posts” weer “gedeel” na ander Facebook profiele.  Sulke onselfsugtige optrede deur mense wat jou nie eers ken nie, vat aan jou hart.Die gemeenskap van Parys was eenvoudig wonderlik. Mense het boodskappe help versprei op sosiale netwerke, help soek en ondersteun”, vertel Alta de Swardt, Wilner se ma.

Maar einde ten laas is dieselfde pamflet ook gebruik vir ‘n advertensie in die Parys Gazette wat Donderdag 30 Junie op straat verskyn het.

“Die ink was nog nie eers behoorlik droog op die advertensie wat ons laat  plaas het in die Gazette, of ons het ‘n oproep vanaf Serfco ontvang dat ‘n ene Daniel wat daar werk, vir Annie herken op die foto van die advertensie en weet waar sy aangehou word!!  Ons het baie hard gebid dat dit wel Annie is, en Arno het die SAPD van Parys laat weet en gevra dat hul hom vergesel na die perseel wat Daniel uitgewys het.  Lang storie kort, was dit toe inderdaad Annie. Genoeg woorde om ons dankbaarheid te betuig vir Daniel se oplettendheid is daar nie,  asook vir die belangstelling en ondersteuning van Parys se mense!!  Dit was ‘n absolute wonderwerk en ons ag onsself baie gelukkig!  Weereens ‘n bewys, advertensie werk!  En dit is op die regte oomblik deur die regte persoon raakgesien!!”

Annie is onder haglike omstandighede in ‘n bitter klein hok aangehou sonder kos of water, maar sy is ongedeerd.

 

 

 

Related Articles

Back to top button