NewsNews

Totsiens my Byeboer Pa

Die bekende Vaaldriehoekse byeboer, mnr. David van der Berg (74), is vroeër die maand na ‘n stryd teen kanker oorlede. Hier is ‘n uittreksel uit ‘n brief wat sy dogter, Marie Potgieter, na sy dood aan hom geskryf het.

Die bekende Vaaldriehoekse byeboer, mnr. David van der Berg (74), is vroeër die maand na ‘n stryd teen kanker oorlede. Hier is ‘n uittreksel uit ‘n brief wat sy dogter, Marie Potgieter, na sy dood aan hom geskryf het.

Liefste Pa,  alles was nog deurmekaar, mense, telefoonoproepe, besluite, roudiensreëlings, die roudiens. Skielik is Pa weg met ‘n laaste asem uitgeblaas. Byeboer, pa, eggenoot, oupa, oupagrootjie en vriend, lui die begrafnisbladjie: David Philippus van der Berg. Gebore: 12/11/1941, Oorlede:11/6/2016 op ouderdom 74 jaar. Roudiens: 15 Junie 2016.

Ek kon nie groet nie Pa, want hoe skei mens pa en die bye, die bye en die plot? Pa is oral. Die korwe, die supers, die rakkies, die skuur, die byekamer, die heuningkamer. Dit was in pa se hartklop, asemhaling, deurweef deur pa se hele samestelling. Pa se nommer 10-skoene het diep spore getrap hier op die plot. ‘n Paadjie deur die hekkie vanaf die woonhuis deur na die byekamer en heuningkamer.

Ek het elke keer myself verwonder aan die manier hoe Pa by ‘n byekorf gestaan het wanneer ‘n nuwe swerm bye intrek. Dit met soveel liefde en teerheid hanteer. Dis ‘n liefde wat van kleins af daar was. Van kindsbeen af het pa vir die bye hokkies gemaak om in te trek. Ons het altyd tong in die kies die mense geantwoord as hulle wil weet watter bye pa s’n is. Dis die bye wat ‘n DP van der Berg-stempel op hulle vlerkies het. Daarom kon pa nie afstand doen van die byeboerdery nie. Mense weggewys het wat wou koop want hulle het nie ‘n liefde vir die bye soos pa nie. Tot op die laaste.

Vandag verstaan ek vir die eerste keer hoekom pa nooit gepraat het oor pa se kindertyd nie. Met Oupa vroeg oorlede aan beroerte in 1954 en pa nog net ‘n seun op ‘n kwesbare 14 jaareen van 10 kinders, die vyfde kind, moes pa maar leer om emosies weg te steek. Met ‘n jammer hart vir mense wat ‘n sukkelbestaan voer het pa altyd ‘n oop hand gehad want pa het self die paadjie gestap as kind. In die bittere armoede met die fiets volgelaai om groente te gaan verkoop en so te help om die baie monde gevoed te kry. In laerskool skool gegaan op Orkney en in hoërskool op Klerksdorp.

Met St 8 agter Pa naam, het pa eers by die Poskantoor gewerk, met ma se broer Piet bevriend geraak en so vir Ma ontmoet. Die liefde het geblom en julle is getroud op 16 Junie 1962. By Yskor gewerk in Vanderbijlpark. ‘n Voorman by die Kouewals-aanleg.

Ons vyf kinders is gebore: Ousus (Bettie) in 1963, ek, Sussie (Marie) in 1964, Ouboet (Dawie) in 1966, Boetietjie (Fanus) in 1968 en Sussietjie (Neeltjie) in 1969. Ek onthou nog toe ons na die plot kom kyk het want pa het ‘n droom gehad: ‘n byeboerdery

Met die byekorwe op die plot en die heuningkamer wat pa gebou het, het ons pa gehelp om die seeltjies van die koekheuning te breek, die heuning met die slinger uitwaaimasjien uit te waai. Die byewas moes ons in ‘n emmer hou om weer herwin te word. Ons kindervoete het saam met Pa se nommer 10’s die paadjie uitgetrap van die huis na die byekamer en terug. Dit was my werk om die heuningbotteltjies te was, want my handjie het lekker gepas om binne die botteltjies by te kom. Dit was ‘n konsternasie toe my hand later van tyd te groot geword het daarvoor en Sussietjie by my moes oorneem. Die plakkertjies was nog die wittes met blou randjie wat “lick & stick” was en ek moes pa se stempeltjie daarop druk na ek dit op die inkkussinkie gedruk het. Dan het ek asem opgehou want Pa het nie daarvan gehou as dit skeef, te lig of dubbel gedruk was nie. Dit was die moeilikste deel.

2 Februarie 1988 is Ma oorlede en Pa het met tannie Rina in die huwelik getree op 9 Januarie 1994. Toe kom die geleentheid om die plot langsaan te koop. Dit was die nuwe woonhuis. So het Pa se byeboerdery uitgebrei. Pa se Trots. Die heuningbottels het ‘n nuwe baadjie aangetrek, pryse gekry by die skou, onder andere ook vir die beste “label”.

Oral in die winkels hier was pa se heuning op die rakke. Van oral het mense geskakel oor ons heuning. Met die kliënte sowel as die verskaffers was dit nooit net ‘n saketransaksie nie. Dit was Vriende. Hoeveel maal het van die kliënte Pa nie in die aand gebel en gesê hulle heuningrakke is leeg en ons bestellings gereed vir aflewering omver gegooi – voorraad onttrek – omdat hulle dringend heuning nodig gehad het. Daar is altyd ‘n plan gemaak om te help. Januarie 2012 kom die dubbele skoknuus van kolonkanker by Pa en Ousus. Pa en kind bykans dieselfde tyd gediagnoseer met kolonkanker. Pa het eers chemo en bestraling gekry en is toe geopereer en Ousus is eers geopereer voor sy behandeling gekry het.

Op haar verjaardag, die 5de Julie 2012, het ons gesien hoe sy doodgaan… moes ons onverwags totsiens sê. Die oproep op dieselfde dag dat Ouboet ook kanker het, het ons geruk.  Ek sal nooit vergeet toe Ouboet terugry Kaap toe na die begrafnis nie. Vir die eerste keer in my lewe het ek Pa gesien huil. Dit het my geruk en ek het geweet ek moes

Vanderbijlpark toe kom. Pa het my nodig. Ek het van Pretoria na Vanderbijlpark teruggetrek. 29 Januarie 2013 is Pa se oudste seun, Pa se naamgenoot, opvolger van Sonneblom Byeboerdery oorlede. Al Pa se drome het getuimel. Pa het skielik oud geword. Oornag. Maar Pa het nie gepraat oor Ouboet of Ousus nie. Saam het ek en Pa skouer aan die wiel gesit en ons het saam na pa se belange omgesien. Dit was lekker om so saam te sit en plakkers op die heuningbottels te plak en bestellings reg te kry, so tussendeur te gesels as Pa se maag saamwerk want met die kankerbehandeling was Pa se lewenskwaliteit drasties ingekort. Tog het Pa opgestaan en aangegaan. Ek het respek gekry vir Pa. Groot respek. Ten spyte van die probleme wat saam met diabetes gaan en Pa se maag wat Pa se hele lewe beheer het, het Pa steeds aangegaan.

Steeds gaan aflewerings doen, steeds gaan bye werk. Pa is ‘n vegter, met deursettingsvermoë soos min mense het. Pa, jy was my inspirasie. ‘n Voorbeeld vir my. Dit was ‘n voorreg om saam met Pa te werk. Ek het Pa eers rêrig leer ken in hierdie 4 jaar waar ons nou saamgewerk het. Gewapen met Pa se noodkissie vir maagprobleme het Pa deurgedruk. Sommige dae was minder goed, ander dae beter. Ons het geleer om dit dag vir dag te neem. Ons beplanning is gedoen rondom hoe Pa voel die dag. Soms weke omgegaan waar ons net telefoniese kontak gehad het. Weer skoknuus van Oom Nico – Pa se jonger broer se dood April 2015. Pa se gesondheid het stadig maar seker agteruitgegaan. Ander pyne het bygekom, meer pille, meer doktersbesoeke, meer toetse maar hul kon niks verkeerd vind nie. Ons het dit toegeskryf aan ouderdom en diabetes.

30 Mei 2016 na Pa in en uit die hospitaal was, elke keer met verskillende probleme, kom die skokkende nuus dat die kanker terug is en is ook in die been. Pa se rug het seergekry die oggend. Ek het pa nog nooit in so ‘n skoktoestand gesien nie. Pa het gebewe en die trane het aanmekaar gevloei. Van pyn, van skok. 31 Mei 2016 het Pa oorgawe gemaak en Jesus aangeneem as Pa se Here en Saligmaker. Ek is so trots op Pa. Maar ook geweet dat alles vinnig verder gaan gebeur. Pa is ontslaan uit die hospitaal.

Op 2 Junie is Pa met die ambulans Mediclinic toe geneem, want toe kon Pa amper nie loop nie. Pa was te swak. Toetse het gewys dat die kanker ver versprei was alhoewel alle ander toetse voorheen skoon was. Op 10 Junie 2016 moes ons gaan groet. Alles in mens het gebewe. Dit was erg om Pa so te sien

  1. Sussietjie en Boetietjie gaan terug Australië toe. Dit was nog net ek en Pa….

Dankie vir die voorreg om Pa opnuut te kon leer ken. Pa het my geïnspireer. Dit was so lekker om elke dag naby pa te kon wees. Te weet Pa was daar. Ons mekaar kon help. Pa was my steunpilaar. Van Pa se broers en susters bly net 4 oor. Manie, Danie, Stienie en Magda. Van ons bly net drie oor ek, Boetietjie en Sussietjie. (Marie, Fanus en Neeltjie), en ons sewe kinders – Jesre, Tiaan, Anne, Ian, Nikita, Danre en Simone. Aan Tannie Rina se kant is dit drie kinders – Ansie, Tersia en Martin, 7 kleinkinders en 3 en ‘n “halwe” agterkleinkinders.

 

Ek staan op die plot en besef alles het verander. Alles lyk nog dieselfde maar Pa kort. Al wat oorbly is pa se droom en my droom…. Pa was so opgewonde toe ek pa vertel van my droom. Dit kon tot nou nie realiseer nie want Pa het begin siek raak en ek was te besig met die verantwoordelikhede wat meer geword het met die besigheid… Ek wil groepe kinders van Oupa Dawie vertel en sy Sonneblom Byeplaas vir hulle wys, hulle ook vertel van hoe wonderlik die Here ‘n by gemaak het. Hulle wys hoe lyk ‘n byeboerdery (al is die bye en korwe op plase). Hoe heuning van ‘n korf tot in ‘n bottel kom. Hulle moet weet van die by. Sonder die by kan die mens nie voortbestaan nie. Die mense ken pa se embleem op die heuningbottels wat hulle in die winkels sien.

Die seisoen was die heuning maar min as gevolg van die droogte, maar volgende seisoen gaan die sonneblomme weer blom. Vandag groet ek maar dis net totsiens. Saam met ons voetspore gaan daar nou nuwe kindervoetspore lê. Ter nagedagtenis aan Pa. My byeboer pa. Nou gaan my droom begin realiseer. Ons twee se drome deurweef op die byeplaas.

Totsiens my Byeboer Pa.

Related Articles

Back to top button