NewsNews

Politieke partye pak Ngwathe-kwessies in warm debat

Op 3 Augustus gaan Suid-Afrikaners oor die land na die stembus om te stem watter party die leisels in hul onderskeie munisipaliteite sal neem. Maar wat is elke party se oogmerke en planne om dienslewering en brandpuntkwessies soos werkskepping, grondhervorming en beter infrastruktuur aan te spreek?

Op 3 Augustus gaan Suid-Afrikaners oor die land na die stembus om te stem watter party die leisels in hul onderskeie munisipaliteite sal neem. Maar wat is elke party se oogmerke en planne om dienslewering en brandpuntkwessies soos werkskepping, grondhervorming en beter infrastruktuur aan te spreek?
Parysenaars het verlede Woensdag die geleentheid gehad om uit die spreekwoordelike perd se bek die antwoorde te kry toe RSG se Monitor-span onder leiding van Suzaan Paxton in die stadsaal met verteenwoordigers van die DA, VF Plus, die EFF en die ANC gesels het. Die gesprek het soms luide toejuiging uit die gehoor gekry en daar was min twyfel wat die mense van Ngwathe die meeste pla – vuil strate, die vele slaggate, ongereelde vullisverwydering, werkloosheid, rasse spanning, swak dienslewering en die enorme skuld aan Eskom.
Die ANC se Michael Peterson moes met tye bontstaan om antwoorde te gee oor sy party se oënskynlike gebrek daaraan om mense in Ngwathe die dienslewering te gee waarvoor hulle betaal, terwyl die EFF se John Lengwede Modisenyane luide toejuiging van sy ondersteuners uit die gehoor gekry het, wie veral nie geskroom het om hul misnoë met die ANC-leierskap hoorbaar te kenne te gee nie. Ook die DA en Vryheidsfront Plus het duidelike antwoorde gegee wat die prentjie van die tekortkominge in die Ngwathe bestuur onomwonde geskets het.
Hoewel Peterson probeer oortuig het dat die OG-verslag oor jare nie na gekyk moet word nie, maar eerder die verbetering in die 2015 verslag, het die DA se Carina Serfontein uitgespel dat die ouditeur weer duidelik gewys het op onregmatige uitgawes en wanadministrasie. Ook die Vryheidsfront Plus se Philip van der Merwe het gewys op die groot probleem met die toeken van tenders en die Ngwathe begroting wat steeds nie gefinaliseer is nie.
Daar was ook geen onduidelik oor belangrike komitees wat nie gereeld vergader nie, ’n  disfunksionele raad waar raadslede self nie  ingelig word oor wat met die agterstallige Eskom-skuld gebeur nie, en die munisipaliteit wat self voorafbetaalde meters in die verlede gebrug het. Van der Merwe het dit onomwonde gestel dat Ngwathe nooit sy skuld aan Eskom sal kan betaal nie.
Peterson op sy beurt het gevra vir opleiding van raadslede soos in die verlede, terwyl ’n  lid van die publiek wou weet waarom munisipale voertuie oënskynlik misbruik word om steun vir die ANC te kry vir die komende verkiesing. ’n  Aantyging wat heftig deur die ANC ontken is en gesê is dat beweringe soos die getoets moet word en bewyse gegee moet word. Daarmee saam is die kwessie van oortyd betaling aan munisipale werkers oor naweke vir werk wat gedurende die week gedoen moes word ook aangeraak.
En dan het elke party ook sy beurt gehad om sy beleid oor grondhervorming uiteen te sit.
Maar hoe daar ookal geredeneer is, feit bly staan dat kiesers geregtig is op sekere dienste en moet kry wat hul toekom.
Iets waaroor elke inwoners self sal moet besin alvorens daardie kruisie op 3 Augustus getrek word.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button