NewsNews

Nuwe sigaretwet sal rokers nie noodwendig afskrik nie

In ’n nuwe studie oor die Suid-Afrikaanse regering se voorgestelde instelling van geen sigbare handelsmerke op tabakverpakking, het Helvin Manuel, MBA- gegradueerde aan die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool (USB) bevind dat nét dit nie genoeg is om die verbruik van tabakprodukte te verminder nie, en dat dit ’n beduidende invloed op wetstoepassing en belasting kan hê. Manuel het die moontlike invloed van verpakking sonder handelsmerkidentiteit op die koopgedrag en produk-belewenis van sigaretverbruikers bestudeer. Hy het uit bykomende ervaring in Australië geput, waar só ’n strategie die eerste keer ter wêreld in 2011 ingestel is.

In ’n nuwe studie oor die Suid-Afrikaanse regering se voorgestelde instelling van geen sigbare handelsmerke op tabakverpakking, het Helvin Manuel, MBA- gegradueerde aan die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool (USB) bevind dat nét dit nie genoeg is om die verbruik van tabakprodukte te verminder nie, en dat dit ’n beduidende invloed op wetstoepassing en belasting kan hê.
Manuel het die moontlike invloed van verpakking sonder handelsmerkidentiteit op die koopgedrag en produk-belewenis van sigaretverbruikers bestudeer. Hy het uit bykomende ervaring in Australië geput, waar só ’n strategie die eerste keer ter wêreld in 2011 ingestel is.
Die wettige markomvang van die Suid-Afrikaanse tabakbedryf word op meer as 20 miljard individuele sigarette beraam, en die waarde daarvan oorskry R30 miljard. Die moontlike instelling van sulke wetgewing bekommer die plaaslike tabakbedryf omdat dit dalk ’n regstreekse invloed op die winsmarge kan hê.
“Verpakking het ’n belangrike deel van bemarking geword, en daar word aansienlik belê om ’n verskil tussen verskillende handelsmerke in verskillende segmente te vestig, om handelsmerk-ekwiteit en waargenome waarde te verhoog. Dit dien veral as ‘n reklamewerktuig nadat die wysiging van die Wet op die Beheer van Tabakprodukte wat in 1999 in werking getree het, alle reklame verbied het.”
Manuel se simulasiestudie van 22 Suid-Afrikaanse rokers wat elk hul voorkeurhandelsmerk vyf dae lank met handelsmerklose verpakkings moes rook, het bevind dat hoe langer verbruikers met dié gebruik te doen kry, hoe meer raak hulle met die verpakking vertroud en hoe swakker word hul aanvanklike negatiewe persepsies.
Sommige het selfs aangedui dat hulle sigarethouers in plaas van die verpakkings sou oorweeg, wat tabakvervaardigers moontlik ’n nuwe geleentheid vir handelsmerkidentiteit bied.
“Aangesien alle handelsmerkekwiteit van die sigaretverpakking verwyder is, en sonder produkverskille, kan tabakvervaardigers nie meer ’n premie vir hul verskeie produkte hef nie. Sommige verbruikers het aangedui dat hulle nie dieselfde waarde uit hul handelsmerk haal nie, en voel dat die prys van alle sigarette dieselfde moet wees. Dit kan die vraag na en gebruik van sigarette verhoog, soos wat in die Australiese mark gebeur het, waar ’n daling in prys in meer verbruik uitgeloop het.”
Manuel het egter gevind dat die verbruiker wat waarde vir geld soek, die handelsmerk-lose verpakking goedkeur. “Die smaak van die sigarette en die prys van die pak is belangriker as die beeld van die handelsmerk.”
Manuel sê hoewel regerings goeie bedoelings met die instelling van handelsmerklose tabakverpakkings het, is daar bepaalde onbedoelde gevolge wat met die indiening van sulke wetgewing in ag geneem moet word.
“Handelsmerklose tabakverpakking sal dit makliker maak om oorspronklike produkte te vervals, en dit skep ’n uitdaging vir wetstoepassers. Dié onwettige handel kan ook meebring dat die regering geld inboet ten opsigte van belasting wat moontlik van die wettige tabakbedryf ingevorder kon word. ’n Studie wat KPMG in 2013 in Australië gedoen het, het bevind dat die toename in onwettige produkte ná die instelling van handelsmerklose tabakverpakking ’n verlies van £560 miljoen (huidge rand waarde as sowat R12 biljoen) belasting meegebring het.
Manuel wys wel daarop dat verpakkings sonder handelsmerkidentiteit as minder aantreklik en glad nie “cool” beskou word, wat jonger mense moontlik kan ontmoedig om in die eerste plek te begin rook.
“Rokers is emosioneel wat hul gedrag en handelsmerkkeuses betref. Talle het as gevolg van portuurdruk, die waargenome so- siale aanvaarding en die status wat die handelsmerkekwiteit van premiesigarette uitstraal, begin rook. My studie het bevind dat die sielkundige uitwerking van die verpakkings sonder handelsmerkidentiteit daarop uitgeloop het dat sommige verbruikers ervaar het dat die smaak en prestasie van die sigarette verander, al het die produk self nie verander nie. Dit kan selfs ’n regstreekse invloed hê op nuwe verbruikers wat dit oorweeg om te begin rook.”
Die deelnemers aan die navorsingstudie het almal tussen 12 en 21 jaar oud begin rook, en aansienlik meer as 80 persent het op skool begin rook. Hulle moes ’n daaglikse aanlynjoernaal byhou en hul ervaring met die handelsmerklose verpakkings oor vyf dae heen uitdruk deur middel van vraelyste wat Manuel vooraf opgestel het, asook ’n regstreekse aanlynforum.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button