NewsNews

Doodskoot vir prag-takbokke

Inwoners van Vanderbijlpark veral in die omgewing van die Emfuleni Golf Estate en Virgin Active, was verlede week hoogs ontstoke oor die dood van drie takbokke wat die afgelope twee jaar vry in dié omgewing geleef het.

Inwoners van Vanderbijlpark veral in die omgewing van die Emfuleni Golf Estate en Virgin Active, was verlede week hoogs ontstoke oor die dood van drie takbokke wat die afgelope twee jaar vry in dié omgewing geleef het.

Tonge was los op sosiale media en mense het veral vinger gewys na die Vanderbijlpark/Vereeniging DBV en die betrokke polisiebeampte wat die skietwerk gedoen het. Sy identiteit is aan Vaalweekblad bekend, maar om te verhoed dat die heksejag verder aangevuur word, word dit spesifiek nie genoem nie.

Die drama het hom Vrydagoggend afgespeel toe die takbokke (wat ‘n eksotiese spesie is en nie eie aan Suid-Afrika is nie), geskiet, op ‘n voertuig gelaai en weggery is.

In terme van die Uitheemse en Indringende Spesie Wet, is takbokke ‘n Kategorie 2-spesie. Dit beteken dat ‘n permit ‘n vereiste is vir die aanhou van dié bokke. Gauteng Natuurbewaring het egter ‘n beleid dat takbokke nie lewend vervoer mag word nie.
Geen nuwe permitte word verder deur Gauteng Natuurbewaring vir die aanhou van dié bokke uitgereik nie.
Dit sluit ook in dat dié soort bokke nie verdoof of lewend verkoop kon word nie, slegs karkasse mag vervoer word.

Dit is weens dié wetgewing dat die Vanderbijlpark/Vereenigng DBV en die polisie die moeilike taak gehad het om oor die noodlot van die takbokke te besluit.
“Ons, asook die polisie, het reeds ‘n geruime tyd klagtes van inwoners oor die takbokke ontvang. Die bokke het vry rondgeloop en was gereeld in die pad, veral laat in die aande. Motoriste was bekommerd dat dit tot ongelukke kon lei,” sê Marlien Pieterse, bestuurder van die Vanderbijlpark/Vereeniging DBV.
“Ongelukkig was een van die bokke se been boonop gebreek en daar moes daadwerklik opgetree word om enige verdere lyding uit te skakel,” sê sy.
‘n Lid van die polisie het die leiding geneem in die taak om die takbokke te skiet.
“Ons was egter onder die indruk dat daar net twee takbokke is, maar het intussen vasgestel dat dit ‘n trop takbokke van sowat ses of sewe is,” sê Marlien.
* Die takbok-probleem is egter nou uit die hande van die DBV en sal nou deur Gauteng Natuurbewaring hanteer word. Dit voorspel ongelukkig nie outomaties ‘n beter uiteinde vir die bokke nie!

Related Articles

Back to top button