NewsNews

Uit my dagboek: Nuwe pa; Eerste haarsny

Kan jy jou eerste haarsny onthou? Nee ek ook nie. Ek is seker dit is ’n groot oomblik in elke ouer se lewe.

Kan jy jou eerste haarsny onthou? Nee ek ook nie. Ek is seker dit is ’n groot oomblik in elke ouer se lewe.
Veral as jy in ag neem hoeveel haarsnye jy deur jou lewe kry. Dan sal die eerste een nie so spesiaal wees nie. Sommige ouers hou ’n lok van hulle kinders se hare na die eerste sny. Ons het dit nou nie gedoen nie, ons was te besig om te gons oor hoe mooi Aiden nou lyk met sy kort hare. Wel my vrou was baie in haar skik, ek het natuurlik meer van die rebelse lang lokke gehou. Maar ek het al vroeg geleer jy stry nie met ’n ma oor wat sy dink is die beste vir haar klein seuntjie nie. Ek sien tog haar punt in, die kere wat ek Aiden moes regkry vir skool, het sy lang hare my behoorlik besig gehou.
Hy word wakker met sy hare wat in elke rigting staan, bietjie soos Albert Einstein. Om dit bloot te borsel help nie veel nie, ’n klam lappie werk ook nie so goed nie. Jy moet die arme kind se hare sopnat maak om dit te kan kam. In die koue maak hy hewig kapsie teen die water oor sy kop. Dan word dit amper soveel moeite soos om ’n hond wat bang is vir water, te bad. Met die gevolg dat ek en hy nat is.
So vir praktiese doeleindes was dit beter om sy hare te sny. In ons familie is ons gelukkig dat my suster sowel as my skoonsuster albei haarkapsters is. Dié keer het my skoonsuster Aiden se hare gesny. Hy was volgens haar die soetste kliënt wat sy al gehad het. Hy het teen die einde bietjie begin huil, maar ek dink dit was meer omdat hy so lank moes stilsit as enige iets anders. Dit was vreemd om hom met kort hare te sien. Hy het vir my soos ’n ander kind gelyk. Tog, toe hy weer teen my been kom staan, opkyk na my en “dadda” sê, toe weet ek dit is darem nog dieselfde Aiden.

Related Articles

Back to top button