NewsNews

Museums is meer as ’n nostalgiese herinneringsreis

Potchefstroom se museums wys al baie jare vir besoekers hoe mense lank gelede geleef, gewerk en studeer het.

Potchefstroom se museums wys al baie jare vir besoekers hoe mense lank gelede geleef, gewerk en studeer het.

Die plaaslike museums is enkeles van derduisende wêreldwyd wat op 18 Mei Museumdag herdenk. Die eerste Internasionale Museumdag is in 1977 gevier. In 2015 het meer as 35 000 museums in 145 lande dié dag herdenk.

Die doel van Internasionale Museumdag is om die publiek daarvan bewus te maak dat museums ’n baie belangrike rol speel om kulture aan mekaar bekend te stel en om wedersydse begrip, samewerking en vrede tussen verskillende groepe te skep.

Vanjaar se tema is “Museums en die kulturele landskap”. Gaan maak dus gerus op Museumdag ’n draai by een van die talle museums om meer oor die stad se kulturele landskap uit te vind.

 

Potchefstroom Museum

Die Potchefstroom Museum bestaan sedert 1961. Die Hoofmuseum is tans in die Museum- en Biblioteekgebou, ook in Sol Plaatjes-rylaan. Die hoof uitstalruimte, waarin wisseluitstallings plaasvind is in dié gebou. ’n Kunslokaal bied reg deur die jaar kunsuitstallings aan, terwyl skilderye van Otto Landsberg in ’n eie lokaal uitgestal word. ’n Argief waarin historiese navorsers waardevolle inligting oor Potchefstroom kan bekom, is beskikbaar.

Daar is ook drie huismuseums in die stad, al drie vroeër die wonings van bekende Potchefstromers. Die museums beeld die leefwyse in Potchefstroom uit in verskillende tydperke.

 

President Pretorius-museum

Die oudste huismuseum is die President Pretorius-museum by Thabo Mbeki-rylaan 116. Dié huis is in 1850 eiehandig deur pres. Marthinus Wessel Pretorius (1819 – 1901) met die hulp van ’n handlanger gebou. Die president het die plaas Rietfontein, waarop die huis gebou is, as betaling ontvang van die ZAR vir sy werk as president. Die Pretorius-familie het daar gewoon totdat dit in 1895 verkoop is.

 

Goetz-Fleischak-huis

Die Goetz-Fleischak-huis, Sol Plaatjes-rylaan 34, is die enigste oorblywende voorbeeld van ’n vroeë dorpshuis wat aan die Nuwe Markplein gegrens het. Dit is in 1861 gebou. Dit was die woning van A.M. Goetz, landdros van Potchefstroom gedurende die Eerste Anglo-Boereoorlog (1880 – 1881).

Goetz se skoonseun, Albert Reinholdt Fleischak, het die huis by hom gekoop en sy gesin het daar gewoon tot 1902. Fleischak was staatsprokureur van die ZAR tot met die uitbreek van die Tweede Anglo-Boereoorlog in 1899.

 

Totiushuis

Die Totiushuis, Molenstraat 108, was die woning van die digter, Totius. As prof. J.D. du Toit, rektor van die Teologiese Skool, het hy in die huis gewoon vanaf 1911 tot 1924. Die huis is in 1905 gebou en die eerste bewoner was prof. Jan Lion Cachet, voorganger van prof. Du Toit.

Die meeste van die meubels in die Totiushuis is deur die Du Toit-familie geskenk. Dit sluit ’n harmonium of huisorrel in wat Totius gebruik het toe hy die Psalms in Afrikaans berym het.

 

NWU Argief en Museum

By die NWU Argief en Museum is ’n uitgebreide uitstalling ingerig wat die geskiedenis van die universiteit vanaf 1869 tot 2003 uitbeeld. Vir Oud-Pukke is hierdie uitstalling ’n nostalgiese herinneringsreis.

Die Museum nooi mense van buite die Universiteit uit om op Museumdag te kom inloer. Dié dag is die Museum ’n uur vroeër, vanaf 08:00, oop en elke besoeker kry ’n gratis koppie koffie.

Die ingang na die Argief en Museum is aan die oostekant van die Ferdinand Postma-biblioteek (E7). Skakel 018 299 4087 vir meer inligting.

Benewens hierdie museum, is daar twee ander museums op die kampus van die NWU-PUK. Dié museums kan net op afspraak besoek word.

 

POK Museum

Die POK Museum, in gebou C6, die ou POK-hoofgebou, beeld die geskiedenis van die ou Potchefstroomse Onderwyskollege uit vanaf sy stigting in 1919 tot 2000, toe dit by die PU vir CHO geïnkorporeer is. Skakel Susan Bester (083 600 7954) om die museum te besoek.

 

Geologie Museum

By die Andries Bisschoff Geologiemuseum in die kelderverdieping van gebou E6, die JS van der Merwe-gebou, word duisende gesteentes gehuisves wat die departement Geologie oor jare versamel het. Een daarvan is ’n redelike groot stuk meteoriet uit Namibië. Skakel mnr. Kosie Oosthuizen by 018 299 2396 om die museum te besoek.

 

Gereformeerde Kerk-museum

Die museum wat die geskiedenis van die Gereformeerde Kerk uitbeeld word gepas gehuisves in die ou Teologiese Skool-gebou wat in 1905 gebou is toe dié Skool vanaf Burgersdorp na Potchefstroom verhuis het. Dit is regs langs die Totiushuis in Molenstraat. Dié museum kan ook net op afspraak besoek word. Skakel mev. Marie Coetzee. Haar selnommer is 083 566 7627.

 

Related Articles

Back to top button