NewsNews

Kunstefees gaan voort op Potchefstroom

Die groep van Aardklop-belanghebbendes, wat bestaan uit verteenwoordigers van die Potchefstroom Sakekamer, die Tlokwe Stadsraad, gemeenskapsleiers uit Potchefstroom, die Noordwes Universiteit, stigtersborge asook ander borge en medewerkers van Aardklop Kunstefees oor jare, het op Donderdag, 14 April 2016 vergader oor die haalbaarheid daarvan om die jaarlikse kunstefees op Potchefstroom te laat voortgaan.

Die groep van Aardklop-belanghebbendes, wat bestaan uit verteenwoordigers van die Potchefstroom Sakekamer, die Tlokwe Stadsraad, gemeenskapsleiers uit Potchefstroom, die Noordwes Universiteit, stigtersborge asook ander borge en medewerkers van Aardklop Kunstefees oor jare, het op Donderdag, 14 April 2016 vergader oor die haalbaarheid daarvan om die jaarlikse kunstefees op Potchefstroom te laat voortgaan.

Die groep het ontstaan na aanleiding van die onlangse aankondiging deur die direksie van Aardklop Stigting dat die jaarlikse Aardklop Nasionale Kunstefees met onmiddellike effek gestaak word en dus nie in 2016 aangebied sal word nie.

Die groep van Aardklop-belanghebbendes was bekommerd dat alle aspekte van so ’n besluit nie in ag geneem is nie, veral die invloed van die nie-aanbieding van die fees op die ekonomie van Potchefstroom. Dit laat ook ʼn groot leemte in die platform vir drama, klassieke musiek en ander kunsvorme in die noorde van Suid-Afrika. Hierdie platform is oor 18 jaar deur Aardklop daargestel met die hulp van stigters- en ander borge wat baie in die handelsmerk, die kunste en die gemeenskap van Potchefstroom belê het.

Ten einde so fees te kan aanbied, is borge van uiterste belang. Die groep van belanghebbendes het ʼn paar weke gelede besluit om te fokus op die werwing van borge voordat ʼn finale besluit oor ʼn fees in Oktober 2016 op Potchefstroom, geneem kan word.

Tydens die afgelope vergadering is terugvoering ontvang ten opsigte van borge wat bereid is om so ʼn fees te ondersteun. Alhoewel die gestelde doelwit nog nie heeltemal bereik is nie, was die terugvoering so positief dat die groep van belanghebbendes besluit het om ʼn aankondiging te maak dat daar wel voortgegaan word met ʼn kunstefees vanaf 4 tot 9 Oktober 2016 te Potchefstroom.

Japie Gouws, segspersoon van die belangegroep het gesê dat daar nou volstoom gewerk word om verdere borge vas te maak, asook om persone aan te stel wat die bestuur van die fees sal hanteer. Daar sal ook so gou moontlik, waarskynlik in die eerste helfte van Mei 2016, meer inligting beskikbaar wees oor inskrywings vir die feesprogram en aansoeke vir stalletjies en ander dienste.

“Die naamregte ten opsigte van Aardklop Kunstefees kon ongelukkig (nog nie) bekom word nie en die fees sal nou eers as die Potchefstroom Kunstefees bekend staan”, het Gouws gesê.

Intussen is die belangegroep besig om ʼn nuwe maatskappy sonder winsbejag te stig waarin alles ten opsigte van die fees hanteer sal word. Sodra die maatskappy gestig is, sal ʼn direksie saamgestel word. Gouws het beklemtoon dat daar ook, saam met ander kundiges, persone uit die plaaslike gemeenskap op die direksie moet dien en nominasies daarvoor sal deur middel van die plaaslike media gevra word.

Gouws het bevestig dat die goedgesindheid en entoesiasme van die sake- en gemeenskapsleiers uit Potchefstroom, stigters- en ander borge asook die breë kunstegemeenskap, verstommend was en die besluit om met so fees voort te gaan, vergemaklik het.

 

Related Articles

Back to top button