NewsNews

Hof hoor van intimidasie, en bewerings oor Valke “heksejag”

Bewerings oor sogenaamde boelie-gedrag deur lede van die Valke se ondersoekspan is hierdie week by herhaling in die hof gehoor tydens die borgaansoek van Wian van der Westhuizen (21) en Fanie Oosthuizen (42), wat verlede week deur die Valke inhegtenis geneem is as die 6de en 7de aangeklaagdes op twee klagte van moord ná die dood van Samuel Tjixa en Simon Jubeda. Die staat beweer dat die oorledenes deur ’n groep boere ernstig aangerand is en kort daarna gesterf het, nadat hulle verdink is van die plaasaanval op Loedie van der Westhuizen (72) op sy plaas in die Weiveld-distrik op 6 Januarie vanjaar.

Bewerings oor sogenaamde boelie-gedrag deur lede van die Valke se ondersoekspan is  hierdie week by herhaling in die hof gehoor tydens die borgaansoek van  Wian van der Westhuizen (21) en Fanie Oosthuizen (42), wat verlede week deur die Valke inhegtenis geneem is as die 6de en 7de aangeklaagdes op twee klagte van moord ná die dood van Samuel Tjixa en Simon Jubeda.
Die staat beweer dat die oorledenes deur ’n  groep boere ernstig aangerand is en kort daarna gesterf het, nadat hulle verdink is van die plaasaanval op Loedie van der Westhuizen (72) op sy plaas in die Weiveld-distrik op 6 Januarie vanjaar.
Jan Ellis, wat saam met sy seun, Michael   namens Wian van der Westhuizen en Fanie Oosthuizen verskyn, het uit hul verklarings onder meer aan die hof voorgelees hoedat die twee glo deur  lede van die Valke geïntimideer is, en glo selfs probeer is om Oosthuizen as staatsgetuie oor te haal in ruil vir dieselfde salaris as wat hy tans verdien as voorman, en ’n huis by die rivier waar hy kan hengel. In die verklaring word ook gesê dat die Valke glo herhaaldelik sou gedreig het dat ook Oosthuizen se broer en seun gearresteer sal word as hy nie praat nie.
Gazette is ook deur ’n ander bron verklarings gewys wat glo deur plaaswerkers gemaak is wat ook na bewering aangerand en geïntimideer is.
Teen 14:00  Dinsdagmiddag was daar nog nie uitslag op die borgaansoek nie en was die hof steeds in sitting. Die Valke se A.O. Gert van der Merwe het na die lees van die verklarings getuig van bloed wat oënskynlik op Wian van der Westhuizen se skoene gekry is en dat die beskuldigdes glo plaaswerkers sou geïntimideer het.
Dit het gevolg nadat die staat Maandag vertragingstaktiek tot die uiterste ingespan het. Wian het reeds Vrydag voor landdros Gustav Prinsloo verskyn waarop die staat gevra het dat Prinsloo van die saak onttrek en ’n  ander landdros die saak sal aanhoor. Maandagoggend het landdros Leshnee Pillay op die bank gesit om die borgaansoek te hoor, en het adv. Jabulani Mlotshwa gevra om uitstel na Dinsdag omdat hy in ’n  ander hof moes verskyn. Hy het ook genoem dat hy onder die indruk was dat ’n  ander landdros die saak sou aanhoor.
Pillay het dit duidelik gemaak dat sy die “ander landdros is” en dat borgaansoek ’n  dringende prosedure is wat afgehandel moet word. Sy het die staat aangesê om teen 14:00 Maandagmiddag ’n  plaasvervanger vir die staat te kry wat die borgaansoek kon hanteer en ook gesê dat verskeie aanklaers by die hof beskikbaar is sou dit nodig wees.
Eers rondom 15:00 het adv. Sandile Mtetwa by die hof opgedaag as Mlotsha se plaasvervanger en het die staat weer gevra om uitstel. Die redes – die afstand wat gery moes word na Parys, nie genoeg tyd vir middagete en dat dit toe reeds na 16:00 was.
Pillay het egter aangedring dat die borgaansoek aangehoor moet word en het die staat ernstig vermaan oor die voete gesleep   in die ondersoek en om die borgaansoek afgehandel te kry. Gemoedere het met tye oorgekook tussen die staat, die Valke en die verdediging en is ook Pillay  deur die staat gevra om te onttrek.
Sy het  na 19:00 Maandagaand haar beslissing gegee dat daar geen grondige rede deur die staat gegee kon word vir haar  om te onttrek nie, en dat die hof in teendeel tot nou toe baie verdraagsaam, tegemoetkomend en onpartydigheid teenoor alle partye was. Sy het aangedui dat sy Dinsdag nog die borgaansoek wou afhandel.
Die ander 5 beskuldigdes, Boeta van der Westhuizen, Johan Cilliers sr. en jr., Anton Loggenberg en kapt. Henk Prinsloo het  vroeër borgtog van R5 000 elk gekry en moet weer op 15 April in die hof verskyn wanneer die saak na die hooggeregshof verwys moet word. Pillay het met die vyf beskuldigdes se laaste hofverskyning die staat vermaan dat ondersoekwerk dan afgehandel moet wees. So nie, sal sy die nodige stappe  neem.
Boeta van der Westhuizen het ook weer op Maandag 7 Maart vlugtig in die hof verskyn op ’n aanklag van intimidasie, nadat hy na bewering ’n  oproep na een van die Valke-lede sou gemaak het, glo oor intimidasie van sy werkers. Hy sal weer op Donderdag 10 Maart in die hof verskyn en bly in aanhouding tot dan.   Gideon Mandelstam, regsverteenwoordiger van Boeta van der Westhuizen, het aan Gazette gesê dat daar geen borgvoorwaardes gestel was nie en dat hy herhaaldelik die ondersoekbeampte gevra het vir ’n  lys van getuies met wie nie gepraat mag word nie. Mandelstam sê só ’n  lys is tot nou toe nog nie gegee nie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button