NewsNews

Afrikaanse radio verbied Mulder deelname

Die SABC se Afrikaanse radiostasie, Radio Sonder Grense, het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, verbied om verder deel te neem aan Lynette Francis se program Praat Saam. Dr. Mulder het van tyd tot tyd ingeskakel en aan die inbelprogram deelgeneem.

Die SABC se Afrikaanse radiostasie, Radio Sonder Grense, het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, verbied om verder deel te neem aan Lynette Francis se program Praat Saam. Dr. Mulder het van tyd tot tyd ingeskakel en aan die inbelprogram deelgeneem.

 

Dr. Mulder beskryf dié verbod as blatante sensorskap, gedienstigheid van die openbare uitsaaier aan die ANC-regering en ʼn oortreding van die SABC se redaksionele beleid. Dr. Mulder gaan die saak by die parlementêre portefeuljekomitee opper en ʼn klagte by die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) teen die SABC indien. Volgens hom oortree die SABC sy lisensievoorwaardes asook sy eie redaksionele beleid.

 

In ʼn skrywe van die SABC aan dr. Mulder word verduidelik dat daar ʼn versoek van bo is dat in die lig van die moontlike verkiesing, party-politieke ampsdraers nie verder op inbelprogramme geakkommodeer moet word nie.

 

Dr. Mulder sê sonder ʼn volledige lys van alle politieke ampsdraers by elke inbelprogram in Suid-Afrika is dit nie moontlik om so ʼn opdrag uit te voer nie.

 

“In die praktyk word daar dan net teen sekere politieke partye en individue soos ekself gediskrimineer. Ons betaal almal lisensies ten einde dit vir die openbare uitsaaier moontlik te maak om alle standpunte te kan akkommodeer – nie net daardie standpunte wat die SABC pas nie.

 

“Tot op datum is geen verkiesingsdatum nog aangekondig nie. Op watter gronde kan die SABC dan besluit om willekeurig van nou af sekere individue te verbied om aan inbelprogramme deel te neem. So ʼn verbod kan vir ʼn jaar bly staan as die verkiesing eers in 2017 plaasvind wat tans ʼn moontlikheid is,” sê dr. Mulder.

 

Volgens dr. Mulder bepaal die SABC se redaksionele beleid dat die uitsaaier ten alle tye billikheid, onpartydigheid en balans moet nastreef en dat ʼn wye verskeidenheid standpunte geakkommodeer moet word. Deur sekere individue te verbied om aan programme deel te neem, word hierdie aspek van die SABC se redaksionele beleid oortree.

 

Dieselfde geld vir Okosa se lisensievereistes wat bepaal dat uitsaaiers ’n redelike poging moet aanwend om in hul uitsendings teenstrydige standpunte op ’n regverdige manier weer te gee, veral wanneer omstrede sake van openbare belang ter sprake is.

 

Okosa moet bepaal tot watter mate hierdie lisensievereiste oortree word deur hierdie opdragte by die SABC “van bo” om sekere individue te verbied om aan inbelprogramme deel te neem.

Related Articles

Back to top button