CommunityCommunityEntertainmentNewsNewsPhoto Galleries

Aardklop is verby

Ongelukkig was die gerugte waar - Aardklop soos ons dit ken kom tot 'n einde.

Die Aardklop Nasionale Kunstefees, wat sedert 1998 in Potchefstroom aangebied word, gaan met
onmiddellike effek in die huidige formaat gestaak word.
Dié besluit is deur die direksie van Aardklop bekend gemaak. Die Aardklop Stigting sal voortaan fokus op
nuwe, innoverende modelle om te verseker dat die uitvoerende kunste wel suksesvol bevorder en
ondersteun word.
“Die fees het ’n ongelooflike bydrae gelewer om die uitvoerende kunste te bevorder, maar dit is nodig om
binne die kunstebedryf dinamies en innoverend te werk te gaan. Die vraag ontstaan of ’n fees, wat vir die
afgelope 18 jaar aangebied is, binne die hedendaagse milieu die mees geskikte werktuig is om die kunste
te ondersteun,” het adv. Louise Barretto, voorsitter van Aardklop en die Aardklop Stigting, gesê.
“In ’n bedryf waarin daar tans byna uitsluitlik deur feeste ondersteuning vir die uitvoerende kunste gebied
word, het die Aardklop-direksie tot die besef gekom dat dit noodsaaklik is om te innoveer. Daar word
gekyk na die ontwikkeling van nuwe inisiatiewe wat ’n dinamiese bydrae kan lewer tot die behoud,
ontwikkeling en ondersteuning van die uitvoerende kunste. Gehalte sal steeds ons maatstaf bly,” het sy
gesê.
Barretto het namens die direksie al die feesgangers, kunstenaars, borge en ander vriende van Aardklop
bedank wat dit sedert sy ontstaan geesdriftig ondersteun en bygewoon het.
Andries Vrey, uitvoerende hoof van die fees, het Potchefstroom bedank vir sy vennootskap die afgelope
18 jaar. “Danksy die legendariese gasvryheid van ons gasheergemeenskap het mense jaar na jaar na
Aardklop gestroom om in dié vriendelike stad fees te vier.”
Vrey het ook in besonder sy dank uitgespreek teenoor die werknemers en alle medewerkers van die fees.
In 2011 is ’n kontrak met Clover gesluit, wat as naamborg aan boord gekom het. “Clover het die fees tot
nuwe hoogtes geneem en ’n reuse-aandeel gehad in Aardklop se sukses,” het Vrey gesê. “Sonder die
ondersteuning van Clover en al die ander borge wat oor die afgelope jare ruim bygedra het tot die sukses
van die fees sou die kunstelandskap veel armer gewees het. Clover se besluit om hul borgskap voort te
sit en hierdie opwindende nuwe pad saam met ons te stap is ‘n bewys van hul toewyding tot die plaaslike
kunstebedryf en die potensiaal van ons inisiatiewe.”
Volgens Vrey sal daar binnekort inligting oor die nuwe model en inisiatiewe bekend gemaak word, wat
reeds vanjaar sal afskop.

Related Articles

Back to top button