NewsNews

Ngwathe skuld meeste – Eskom dreig weer

“Onwettige elektrisiteitsverbruik en kragdiefstal is van die faktore wat bydra tot die Eskom-debakel, maar Ngwathe munisipaliteit prioriseer die kwessie rondom dié munisipaliteit se agterstallige Eskom-rekening, soos altyd. Die munisipaliteit se voortgesette verbintenis met belanghebbendes is daarop gemik om seker te maak dat die rekening betaal word om onderbrekings te verhoed.” Só het die Ngwathe munisipaliteit …

“Onwettige elektrisiteitsverbruik en kragdiefstal is van die faktore wat bydra tot die Eskom-debakel, maar Ngwathe munisipaliteit prioriseer die kwessie rondom dié munisipaliteit se agterstallige Eskom-rekening, soos altyd. Die munisipaliteit se voortgesette verbintenis met belanghebbendes is daarop gemik om seker te maak dat die rekening betaal word om onderbrekings te verhoed.”
Só het die Ngwathe munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Steve Naale Maandagmiddag gereageer op Eskom se soveelste dreigement om die ligte vir Ngwathe af te skakel.
Die DA het intussen reeds noodvergaderings aangevra van die Raad se Finanskomitee, sowel as die Uitvoerende Komitee, ná Eskom verlede week ’n finale dagvaardiging op Ngwathe bedien het.
Eskom dreig om Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville se ligte af te skakel teen einde Maart. Ngwathe is een van agt munisipaliteite wat kennis gekry het dat elektrisiteitstoevoer afgesny gaan word weens wanbetaling.
Die Nketoana, Masilonyana, Tokologo, Mantsopa, Ngwathe, Dihlabeng, Nala en Phumelele munisipaliteite skuld die kragreus gesamentlik R842 miljoen. Hiervan skuld Ngwathe die meeste.
Die DA sê nou dat hul oproep tot noodvergaderings  nog net op dowe ore geval het. “Ngwathe speel steeds nie oop kaarte met sy inwoners nie,” sê DA-koukusvoorsitter, Carina Serfontein.
Tot en met 8 Februarie was daar geen verduideliking aan raadslede, of selfs aan lede van die Finanskomitee nie.
Intussen bestaan die Raad se spesiale taakspan oor die Eskomskuld ook nie meer nie word gesê. “Die taakspan het ’n stil dood gesterf,” sê Schoonwinkel, een van die lede van die span.
Hy sê betalende inwoners moenie ly onder Ngwathe se verstommende wanbestuur van elektrisiteit nie. Hy het ook bevestig dat ‘n se-nior DA-parlementslid, mnr. Kevin Mileham,  in gesprek bly met die departemente van energie en ook plaaslike bestuur oor die Eskom-krisis.
Gazette het in Januarie berig dat Ngwathe se Eskom-skuld teen November 2015 toe al R455 miljoen beloop het. Nou is dit al R472 miljoen. Dit wil lyk asof sou Eskom sy dreigement uitvoer, daaglikse geskeduleerde kragonderbrekings die meer as 600 000 inwoners in die munisipaliteite wat geraak word, op die vooraand van die winter sal tref. Die strafonderbrekings in spitstye op weeksdae sal wees tussen 06:00 en 09:00, 12:00 en 14:00 en 18:00 en 22:00.
Luidens ’n  DA verklaring is dit duidelik dat die provinsiale regering en die munisipaliteite nie hou by hul afbetalingsooreenkomste nie, of nie ooreenkomste met Eskom beding nie.Die nasionale tesourie, Kogta en Eskom werk saam om die skuldprobleme op te los, soos ook met Ngwathe die geval is, maar die skuld bly styg.
Ander munisipaliteite wat geraak word is: Nketoana, met Arlington, Petrus Steyn, Reitz en Lindley wat R73,6 miljoen skuld. Tokologo, met Boshof, Dealesville en Hertzogville wat R7,7 miljoen skuld. Masilonyana, met Brandfort, Theunissen, Verkeerdevlei en Winburg, wat R20,2 miljoen skuld. Mantsopa, met Excelsior, Ladybrand, Hobhouse en Tweespruit, wat R58,3 miljoen skuld. Dihlabeng, met Bethlehem, Clarens, Paul Roux, Rosendal en Fouriesburg, wat R57,8 miljoen skuld. Nala, met Wesselsbron, Bothaville en Balkfontein, wat R114 miljoen skuld en Phumelela, met Memel, Vrede en Warden, wat R38,7 miljoen skuld.

Related Articles

Back to top button