News

Meisies moontlik bedwelm terwyl porno verfilm is

SASOLBURG. - Verbysterende inligting oor ‘n Vaalparkse pa wat sy twee tienerdogters oor ‘n tydperk van ses jaar herhaaldelik verkrag, pornografiese materiaal daarvan gemaak en dit op die internet versprei het, het verlede week verder in ‘n klagstaat in die Vrystaatse hooggeregshof ontvou.

SASOLBURG. – Verbysterende inligting oor ‘n Vaalparkse pa wat sy twee tienerdogters oor ‘n tydperk van ses jaar herhaaldelik verkrag, pornografiese materiaal daarvan gemaak en dit op die internet versprei het, het verlede week verder in ‘n klagstaat in die Vrystaatse hooggeregshof ontvou.
Sy dogters was onderskeidelik ses en sewe jaar oud toe hy die misdade met hulle begin pleeg het. Vyftien van sy dogters se maatjies is ook by die pornografiese beeldmateriaal betrek.
Die 43-jarige pa, wat nie geïdentifiseer mag word nie om die identiteit van die kinders te beskerm, is in 2014 in hegtenis geneem na ‘n uitgebreide internasionale ondersoek.
Lt.kol. Heila Niemand van die provinsiale gesinsgeweld, kinderbeskermings- en seksuele misdaad-ondersoekeenheid, het destyds aan Vaalweekblad gesê die man, wat ‘n hoogaangeskrewe sekuriteitsbeampte by ‘n groot nywerheid was, is in Sasolburg in hegtenis geneem.
Dit het gevolg nadat die Australiese polisie in 2014 op ’n webtuiste met kinderpornografie afgekom en gesien het dat beeldmateriaal vanaf Sasolburg opgelaai word. Interpol is toe gekontak, wat op hul beurt die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Suid-Afrika daaroor ingelig het.
“Ons het die inligting opgevolg en die elektroniese spoor gevolg tot ons by die beskuldigde se adres in Vaalpark uitgekom het. Ons het ’n lasbrief gehad en het beslag gelê op al die kameras en rekenaars in sy huis. Dit is waar ons op die kinderpornografie afgekom het,” het lt.kol. Niemand gesê.
‘n Trommel met klein dogtertjies se onderbroekies is ook in sy besit gevind. Die man was ten tyde van die misdade geskei en het saam met sy twee dogters by sy ouers in Vaalpark gewoon.
Volgens die klagstaat het hy sy oudste dogter in Julie 2000 begin verkrag. Hy het haar tot in Maart 2012, toe sy 10 jaar oud was, dertien keer verkrag. Hy het glo sy jongste dogter in Maart 2011, toe sy ses jaar oud was, begin verkrag. Hy het haar tot Mei 2014 nege keer verkrag. Een van hul maatjies is tussen 2007 en 2014 agtien keer verkrag. Sy was maar vyf jaar oud toe dit die eerste keer gebeur het. Verskeie ander meisietjies van so jonk as vier jaar oud, is ook verkrag. Volgens die klagstaat het die beskuldigde die beeldmateriaal vanaf 2011 per e-pos en op die internet begin versprei.
Die moontlikheid word ondersoek dat hy die kinders bedwelm het terwyl hy die dade gepleeg en dit gefotografeer het, aangesien van die kinders wat op die foto’s te sien is en deur polisiesielkundiges ondervra is, niks van die voorvalle kan onthou nie.
Tydens ‘n mediese ondersoek is glo bevind dat die beskuldigde ‘n kenmerkende pigmentasievlek op sy geslagsdeel het, wat ook op die foto’s sigbaar is. Die beskuldigde het egter in ‘n voorverhoor voor regter Fouché Jordaan aangedui dat hy onskuldig gaan pleit op al die klagte, wat onder meer 47 aanklagte van verkragting, 542 van die besit van kinderpornografie, 229 van die vervaardiging en 109 van die verspreiding daarvan, insluit.
Sy verhoor vind van 25 Julie tot 29 Augustus vanjaar in die rondgaande hof in Parys plaas.

Related Articles

Back to top button