NewsNews

Pypmoord: Vier hoor einde April hul lot ná skuldigbevinding

’n Pa en sy 2 seuns, Koen van Aswegen Sr (53), seuns JR (22) en Nikolai (18), asook Dawid Kuyler (19), is vanoggend in die Rondgaande Hoër Hof in Parys skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede sowel as die moord op die 47-jarige sakeman, Byron Craig Marx. Marx is op 4 Desember 2014 ná …

’n Pa en sy 2 seuns, Koen van Aswegen Sr (53), seuns JR (22) en Nikolai (18), asook Dawid Kuyler (19), is vanoggend in die Rondgaande Hoër Hof in Parys skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede sowel as die moord op die 47-jarige sakeman, Byron Craig Marx. Marx is op 4 Desember 2014 ná deeglike beplanning in ’n lokval gelei, aangerand, vermoor en sy liggaam toe in ’n  stormwaterpyp langs die Kopjeskraalpad versteek.
Sy liggaam is eers sowat 2 weke later gekry, styf toegedraai in bouersplastiek en graansakke. Dit nadat sy vriendin, Ella van der Schyff, vir dae deur JR met selfoonboodskappe om die bos gelei is om te glo dat hy leef.
Waarnemende regter Lani Opperman het in haar uitspraak dit duidelik gemaak dat die getuienis wat deur die beskuldigdes in die hof voorgehou is, leuens  was en dat nie een van die beskuldigdes bereid was om die hof in hul vertroue te neem nie.
Sy het gesê dat Van Aswegen Sr vir homself ’n gat  gegrawe het met sy getuienis. Dat hy al met die beplanning van die daad geweet het dat die plan in sy eie woorde “disasterous” gevolge kon hê, en dit selfs aan die ander beskuldigdes gesê het toe hy te kenne gegee het dat die plan “stupid” is. Hy was die seuns se vertrouensvriend wat as “cool” beskryf is en iemand wat weet hoe om met kinders te werk. Tog het hy as die ouer persoon en pa van 2 van die beskuldigdes, voortgegaan met die plan. Wel wetende van die wrok wat JR teen die oorledene gekoester het, het hy hom selfs alleen by Marx gelaat waartydens Marx gemartel is en gesterf het.
“Want sterf die oorledene sterf die skuld wat u aan hom verskuldig was.”
Oor JR het regter Opperman gesê dat dit met ’n  bitter smaak in haar mond is dat sy die woord “oeps” sê, soos wat hy te kenne wou gee met sy getuienies dat Marx per ongeluk tydens die marteling gesterf het. Sy het sy weergawe verwerp “met die minagting wat dit verdien”.
Oor Nikolai en Dawid se betrokkenheid het sy ook hulle soos die Van Aswegens skuldig bevind nie net aan die roof met verswarende omstandighede nie, maar ook die moord, omdat hoewel hulle nie aktief en fisies daaraan deelgeneem het nie, hulle presies geweet het wat gedoen gaan word. Sy het bevind dat hulle gedoen het wat van hul verwag is, en toe ongestoord kamer toe is waar daar koeldrank gedrink is, terwyl hulle geweet en gehoor het wat besig was om te gebeur in Dawid se ouerhuis. Daarna het hulle sonder skroom van die liggaam ontslae geraak, en toe Potchefstroom toe gery waar onder meer X-box’e met die oorledene se geld gekoop is.
Sy het hul motief as gierigheid beskryf.
Maatskaplike verslae sal nou saamgestel en ingedien word en vonnis word op 25 en 26 April gegee. Regter Opperman het ook gevra dat ’n aparte ondersoek gedoen  word na die betrokkenheid van André Kruger wat vroeër ingevolge ’n pleitooreenkoms vir die staat getuig het. Sy sal tydens die vonnisoplegging haar bevinding maak rondom vrywaring van vervolging. Koen en JR  is steeds in aanhouding terwyl Nikolai in die sorg van sy moeder is, en Dawid uit op borg.

Related Articles

Back to top button