NewsNews

Narkotiseur erken skuld

VEREENIGING. - Die langverwagte hofsaak teen ’n narkotiseur van Vereeniging het op 18 Januarie in die Vereeniging streekhof begin

VEREENIGING. – Die langverwagte hofsaak teen ’n narkotiseur van Vereeniging het op 18 Januarie in die Vereeniging streekhof begin. Dit is drie jaar, agt maande en twee weke sedert Jaundré Bennett op die ouderdom van twee jaar na ’n mangeloperasie dood is.

Jaundré se ouers en grootouers, Heinrich en Geraldine Bennett, Maria en Johan Bosch en Alida en Michael Bennett.  Foto: Carla du Plessis
Jaundré se ouers en grootouers, Heinrich en Geraldine Bennett, Maria en Johan Bosch en Alida en Michael Bennett. Foto: Carla du Plessis

’n Saak van strafbare manslag is teen dr. Deon Kotze aanhangig gemaak nadat Jaundré op 4 Mei 2012 in Mediclinic Vereeniging dood is. Sy ouers, Heinrich en Geraldine Bennett het destyds gesê hulle sal nooit die dood van hul kind kan verwerk nie en hulle wil weet wat daardie dag in die teater gebeur het.

Jaundré se oupa, Michael Bennett, het ’n belofte langs Jaundré se sterfbed gemaak dat hy agter die kap van die byl sal kom en die waarheid sal uitvind, sodat reg en geregtigheid kan geskied.

Dr. Deon Kotze en sy vrou Anida wat hom gedurende die hofverrigtinge ondersteun het. Sy sê haar man kry bitter swaar, maar die son sal more en die dag daarna weer opkom. Foto: Carla du Plessis
Dr. Deon Kotze en sy vrou Anida wat hom gedurende die hofverrigtinge ondersteun het. Sy sê haar man kry bitter swaar, maar die son sal more en die dag daarna weer opkom. Foto: Carla du Plessis

Dr. Kotze het erken hy was nalatig en het dus skuldig gepleit. Luidens sy verklaring erken hy sy bedoeling was om die halotaan, ’n middel wat vir narkose gebruik word, van 5% na 2% te verminder na twee minute, maar hy het nie. Dit het ernstige kardiorespiratoriese onderdrukking veroorsaak.

Dr. Kotze sê in sy verklaring hy het soos gewoonlik voor die operasie Jaundré ondersoek en evalueer om seker te maak hy is geskik vir narkose, sodat dr. Pieter Bresler, oor-neus-en-keelspesialis wat intussen oorlede is, die mangeloperasie kon uitvoer. Hy meld ook in sy verklaring dat hy nie Jaundré se bloeddruk gemonitor het nie, omrede hy van mening was dat die polsoksimeter, elektrokardiogram en kapnograaf monitors voldoende sou wees.

Die operasie is binne 14 minute sonder oormatige bloeding of komplikasies voltooi. Dr. Kotze het die ventilasie van Jaundré gestaak en die narkosegasse afgedraai en voortgegaan om 100% suurstof toe te dien.

Jaundré is na die herstelkamer geneem en dr. Kotze is terug teater toe om voor te berei vir die volgende operasie. Jaundré was die eerste van drie pasiënte wat daardie dag ’n mangeloperasie moes ondergaan. Dr. Kotze is teruggeroep na die herstelkamer omdat Jaundré nie spontaan asemgehaal het nie. Hy het onmiddellik begin om Jaundré met ‘n masker en reservoir-sak met 100% suurstof te ventileer, waarna hulle probeer het om hom te resussiteer, maar dit was tevergeefs. Jaundré is die volgende dag weens onomkeerbare breinskade dood.

Streeklanddros Retha Willemse het gedurende die hofverrigtinge gesê twee deskundige assessore is aangestel om hulp te verleen met die saak, weens die kompleksiteit daarvan.

Dr. Kotze praktiseer reeds vir 27 jaar as narkotiseur en het die afgelope 22 jaar as narkotiseur vir dr. Bresler gedien. Hy het al narkose aan 52 000 ander pasiënte toegedien. Luidens sy verklaring het hy berou oor wat gebeur het en was dit ook die eerste en laaste keer wat so iets gebeur het.

Hy sê ook hy sal seker maak dat so iets nooit weer gebeur nie. ’n Saak van strafbare manslag is aanvanklik teen drs. Kotzé, Matthew Tabiri, ’n kinderarts, Abrar-Ul-Hasnain Syed Fatmi, ’n neuroloog, en Pieter Bresler gemaak, maar die saak teen drs. Tabiri en Fatmi is teruggetrek en dr. Bresler is intussen aan kanker oorlede. “Ons is verlig en dankbaar dat geregtigheid geskied. Ons is as familie deur ’n baie moeilike tyd. Hierdie is net weer ’n bewys dat ons, as die man op straat, nie sulke nalatigheid van mediese spesialiste moet aanvaar nie. Na vonnisoplegging sal ons as familie met die helingsproses kan begin, want dan weet ons Jaundré se oupa het sy belofte nagekom,” sê Alida Bennett, Heinrich se ma.

Heinrich en Geraldine se oudste seuntjie Heinie is nou 9 jaar oud en die egpaar het op 23 Oktober 2014 ’n babadogtertjie, Jessica (15 maande) ryker geword. Jessica beteken geskenk van God. Die familie bedank elkeen wat hulle gedurende die tyd ondersteun het, in besonder senior staatsaanklaer Ronel Coetzee, advokaat Deon Barnard en kaptein Ilse Kruger.
“Ons seuntjie sal altyd in ons harte voortleef,” sê die ouerpaar.
* Die saak is tot 13 en 14 April vir vonnisoplegging uitgestel.

Related Articles

Back to top button