CommunityHealthLifestyleNews

Beenmurgskenker gesoek vir geliefde ‘Juffrou Wiskunde’

MEYERTON. - “Ek het nooit geweet wat kanker is nie. Nou weet ek dis ‘n siekte wat jou lewe onderstebo keer, maar ek het ook uitgevind hoeveel mense opreg vir my en my gesin omgee.”

MEYERTON. – “Ek het nooit geweet wat kanker is nie. Nou weet ek dis ‘n siekte wat jou lewe onderstebo keer, maar ek het ook uitgevind hoeveel mense opreg vir my en my gesin omgee.” Só sê mev. Marlene Viljoen (47), ‘n bekende en geliefde onderwyseres van die dorp.

Marlene, wat na 26 jaar as onderwyseres by Laerskool Voorwaarts nou voltyds haar eie onderneming, die Study Budy-leerprogram bedryf, het twee weke gelede nog ywerig voorberei aan die nuwe jaar se lesse vir haar 84 leerlinge. Voordat die skooljaar in alle erns sou begin, wou sy net ‘n vinnige draai by haar dokter maak om uit te vind waarom sy deesdae las het van koorsblare en ander seertjies wat nie wil genees nie.

Sy is dieselfde dag vir toetse gestuur en die uitslag was wat geen mens wil hoor nie: Sy het beenmurgkanker en die telling van haar witbloedselle was lewensgevaarlik laag.

Marlene is die volgende dag in ‘n hospitaal in Pretoria-Oos opgeneem, waar sy in afsondering behandel word om te verhoed dat sy aan kieme blootgestel word. Die rede is dat sy feitlik geen weerstand teen infeksie het nie. Sy gaan nog etlike weke in die hospitaal moet bly.

“Die lang tyd weg van my gesin is die ergste, en wanneer hulle my naweke kan besoek, moet hulle maskers en handskoene dra sodat ek nie aan kieme blootgestel word nie. Dit is baie traumaties vir ons almal,” sê sy. Hoewel sy baie ondersteuning van haar man, Jacques, ook ‘n onderwyser, en hul twee hoërskoolkinders, Marniques en Jacques (jr) kry, is dit ‘n moeilike en emosionele tyd vir almal.

Marlene het Maandag haar eerste chemo-kursus voltooi. Die volgende stap is om ‘n geskikte beenmurgskenker te vind. Haar familie sal eerste getoets word, maar as dit onsuksesvol is, sal sy moet wag tot ‘n ander geskikte skenker gevind word. ‘n Beenmurgoorplanting sal haar liggaam in staat stel om weer self gesonde beenmurg en witbloedselle te produseer. “Ek wil gesond word en huis toe gaan. Ek het ‘n ‘job’ om te gaan doen,” sê dié passievolle onderwyseres, ook bekend as “Juffrou Wiskunde”. Sy het die afgelope jare merkwaardige sukses met haar studiehulp aan skoolkinders behaal.

Haar vriendinne en ma’s van haar Study Buddy-groepe het die afgelope week gebeds- en ondersteuningsgroepe gestig om haar by te staan. Een van hulle, mev. Ronel Pretorius, doen ‘n dringende beroep op almal in die Vaaldriehoek om as beenmurgskenkers te registreer.

“Dit is ‘n pynlose prosedure vir die skenker, wat soortgelyk is aan bloedskenk. Enigiemand tussen die ouderdom van 18 en 50 jaar kan op die internasionale beenmurgregister registreer. Deur dit te doen, kan jy nie net vir Marlene help nie, maar dalk ook iemand anders se lewe red. Om te registreer, kontak asseblief The Sunflower Fund by 080 012 1082,” vra Ronel.

Hoewel die Viljoen-gesin se mediese fonds tot dusver die mediese uitgawes dek, gaan dit na verwagting gou uitgeput wees en Marlene het ook geen inkomste terwyl sy nie kan werk nie. Vriende en familie het intussen ‘n rekening geopen waarin mense wat graag bystand wil gee, skenkings kan deponeer.

Die bankbesonderhede is: PC Bester, First National Bank Easy Account, Gesina, Pretoria, rekeningnommer: 62582995711, takkode: 250655.
Indien ‘n elektroniese oordrag gedoen word, voeg asseblief u naam by. Nadere besonderhede is beskikbaar by Rene Keyter by 082 335 1164 of Cornea by 082 752 3942.

Related Articles

Back to top button