NewsNews

Boere plant, bly hoop te midde van doodse hitte

Die volgende 10 dae is kritiek vir reën vir boere in die Parys-distrik. Boere ken droogtes wat in die verlede plek-plek in die land ondervind is, maar die droogte wat tans gesien word is ongekend. Talle boere van die Kaap tot by Botswana is al op hul knieë met gesaaides wat nie geplant kan word …

Die volgende 10 dae is kritiek vir reën vir boere in die Parys-distrik.
Boere ken droogtes wat in die verlede plek-plek in die land ondervind is, maar die droogte wat tans gesien word is ongekend. Talle boere van die Kaap tot by Botswana is al op hul knieë met gesaaides wat nie geplant kan word nie en vee wat vrek van die droogte met waterbronne en ondergrondse water wat aan die opdroog is.
Vir groot boere is daar geen hulp van regeringskant. Met verlede jaar wat reeds droog was, het baie boere nou al gesukkel om finansiering te kry.
Dis die slegste nog wat boere in die Parys-distrik beleef het, sê Kobus Dannhauser, voorsitter van Parys Landbou/Weiveld Boerevereniging met sy nagenoeg 60 ingeskrewe lede.
Maar dis die volgende 10 dae wat gaan bepaal watter drastiese besluite geneem sal moet word, want as dit nie nou reën nie, sal daar boere in hierdie distrik wees wat geen inkomste uit saaiery sal hê nie en veeboere wat geen ander keuse sal hê as om van hul vee ontslae te raak nie.
Hoewel boere hier geplant het, is die gesaaides in ’n  kritieke toestand, terwyl sommige nog nie eens ontkiem het en nog in droë grond lê. “As dit nou reën binne die volgende 10 dae, is daar dalk nog ’n  kans vir ’n oes,” sê Dannhauser.
En selfs te midde van Donderdag se uitmergelende hitte van by die 40 grade Celsius wat in Parys gevoel is, het boere geplant in die geloof dat dit sal reën. Meeste boere hier het ten volle geplant, en sommige van dié wat vroeër al geplant het, se graan het teen Kersfees nog goed gestaan, maar nou is dit kritiek.
Daar is geen ru-voer, geen reserwes, geen teken van hergroei, en al sou die krisis nou tot ’n mate met baie goeie reën binne die volgende 4 maande gerem word, lê die wintermaande voor waarvoor daar in dié knellende droogte nie voorsiening gemaak kon word nie.
“Hier is dit aanvaarde praktyk om jou beeste in die winter in die lande te laat wei. Dit kan nie gebeur nie”.
“Omdat verlede jaar al ’n swaar jaar was, is dit moeilik om oesversekering te kry. Premies gaan op en boere kan dit eenvoudig nie meer bekostig nie. Verlede jaar was oeste na die westekant van Parys  in baie gevalle swak of eintlik ’n misoes, en na die oorstekant net gemiddeld,” gesels Dannhauser.
Reën dit nie sal daar ernstig met finansiële instellings gepraat moet word, maar ook hande gevat moet word vir hulp uit ander oorde want daar is nie meer sekuriteit nie.
Daar word reeds gewaarsku teen ’n skaarste aan van die mees basiese voedsel in die land wat alle Suid-Afrikaners, ook die armstes sal raak. Vir ’n  dorp soos Parys waar boere ook ’n  belangrike deel van die ekonomie uitmaak, kan die gevolge fataal wees, sê Dannhauser.
Ook hier sal daar boere wees wat dit nie finanseel sal oorleef nie en gevolglik talle plaaswerkers wat hul werk sal verloor.
Die Dannhausers boer sedert die 1870’s op die plaas Braklaagte. Kobus onthou hoe sy pa altyd gepraat het van die droogte van 1933. Maar selfs wat hy kan onthou van die gesprekke, vergelyk dit nie met die hartverskeurende gesig wat boere nou daagliks op hul grond sien nie.
“Ons bly positief. Ons glo en bid vir reën na die naweek toe, en die volgende twee weke. As ons net minstens 200mm vir Januarie, nog 200mm vir Februarie en dalk 100mm vir Maart kan kry. Ons sal dankbaar wees vir enigiets”, sê Dannhauser.

Related Articles

Back to top button