NewsNews

Geen gevoel vir slagoffers, kliënte se vertroue misbruik

“Dit kom voor asof u geen gevoel vir u slagoffers gehad het nie, en nie eens probeer het om hulle te vergoed nie.” Só het landdros G.J. Vi-sagie gesê toe hy Maandagmiddag die 45-jarige André Retief wat voorheen Corner Motors in Parys bedryf het, in die streekhof in Parys 10 jaar gevangenisstraf vir die eerste …

“Dit kom voor asof u geen gevoel vir u slagoffers gehad het nie, en nie eens probeer het om hulle te vergoed nie.”
Só het landdros G.J. Vi-sagie gesê toe hy Maandagmiddag die 45-jarige André Retief wat voorheen Corner Motors in Parys bedryf het, in die streekhof in Parys 10 jaar gevangenisstraf vir die eerste 13 klagtes van bedrog opgelê het, en ’n  verdere 10 jaar vir klagte 14 tot 26. Die vonnisse sal samelopend uitgedien word. Al 26 klagte van bedrog is oor ’n tyd hier gepleeg met die koop en verkoop van voertuie by dié onderneming. Die onderneming is intussen gesluit.
Retief, ’n  pa van drie, het skuldig gepleit op die klagte. Sy vrou Antoinette, wat saam met hom aangekla is, is Maandag deur die staat op al die klagte vrygespreek.
Landdros Visagie het gelas dat Retief die vonnisse ook samelopend sal uitdien met die vonnis wat hy tans uitdien, asook samelopend met ’n agt jaar opgeskorte vonnis wat al in 2011 opgelê is. Hy het in November vanjaar reeds 15 jaar gevangenisstraf op soortgelyke klagte van bedrog wat in Potchefstroom gepleeg is gekry, en 15 jaar gevangenisstraf waarvan drie jaar opgeskort is vir vyf jaar vir soortgelyke klagte van bedrog wat in Krugersdorp gepleeg is.  Retief is ook weer onbevoeg verklaar om ’n  vuurwapen te besit.
Hy het sag gesnik terwyl die vonnis uitgelees is.
Landdros Visagie het gesê dat dit duidelik is dat Retief op jong ouderdom al met die gereg gebots het en ’n  geskiedenis van misdaad het. Hy het dit beklemtoon dat bedrog, korrupsie en misdade van oneerlikheid hoogdy vier in die land en die ekonomie geweldige skade berokken.
Landdros Visagie het gesê dat mense hul vertroue in Retief gestel het, maar dat hy hul vertroue misbruik het. Hy sê dit is te betyfel of hierdie mense enige van die skade wat hul gely het ooit sal kan verhaal en waarskynlik steeds boet as gevolg daarvan.
Landdros Visagie het ook gesê hy weet nie hoe rojaal Retief geleef het ten koste van sy slagoffers nie, of watter rol Retief se vrou gespeel het nie, maar dat hy doelbewus en met oop oë die pad van oneerlikheid gekies het, deur selfs ná die bedrog in Potchefstroom en Krugersdorp, die onderneming in Parys te open en gewetenloos te volhard met die oneerlikheid.  Hy het ook gesê dit kom voor asof daar nog slagoffers was “wat genadiglik u kake ontsnap het”. Antoinette is vroeër op die klagtes in Potchefstroom en Krugersdorp vrygespreek.

Related Articles

Back to top button