NewsNewsUpdate

Hulle wou hom regsien en ’n les leer – vier hoor eers later hul lot

Die vier beskuldigdes wat tereg staan op die moord en roof van sakeman Craig Marx, sal eers in Februarie waarskynlik weet wat hul lot sal wees.

Die vier beskuldigdes wat tereg staan op die moord en roof van sakeman Craig Marx, sal eers in Februarie waarskynlik weet wat hul lot sal wees. Die verhoor word weer op 1 Februarie 2016 hervat nadat daar die afgelope week getuienis gehoor is oor wat die dag van die moord gebeur het by die ouerhuis van David Kuyler. Die huis in St Janstraat is regoor Hoërskool Parys waar hy, Andre Kruger en Nicholai van Aswegen skoolgegaan het.
David (19) en Nicholai (18) staan saam met die 22-jarige Koenraad (JR) van Aswegen en die 53-jarige Koenraad Sr (Nicholai en JR se pa) tereg op die klagtes van moord en roof.
Alle klagte teen die vyfde beskuldigde en skoolvriend van David en Nicholai, André Kruger (18), is verlede Maandag laat vaar nadat hy ingevolge ’n  pleitverduideliking as staatsgetuie opgetree het.
In die hof is die afgelope week getuig hoedat die aanval en roof vooraf beplan is deur die vyf glo om die oorledene “’n  les te leer” deur hom “reg te sien” en van sy geld te beroof omdat hy “mense glo sleg sou behandel het.”
JR wat Donderdag getuig het en baie emosioneel was, beweer dat hy geviktimiseer is deur Marx vir wie hy en sy pa gewerk het. In sy getuienis het hy sy pa van alle blaam onthef, anders as in sy broer, Nicholai se getuienis. Hy het ook vertel hoedat Marx aan sy hand sou gesterf het toe die seuns na David se slaapkamer is en hy sy pa uit die huis gestuur het sodat hy alleen met Marx kon praat. Hy het vertel dat hy Marx se neus toegedruk het terwyl hy met hom gepraat het om hom te sê dat hy nie mense só moet behandel nie. Marx se neus en mond was op daardie stadium met kleefband toegeplak. Hoewel hy kort-kort Marx se neus gelos het sodat hy kon asemhaal, het hy in die gesprek agtergekom dat Marx nie meer beweeg nie en die kleefband van sy mond weggetrek maar dit was té laat.
JR het getuig dat André, Nicholai en David vooraf vrywillig ingestem het om te help met die plan om Marx ’n  les te leer. Luidens getuienis wat in die hof gehoor is, is daar egter nie vooraf ’n  plan gewees om die oorledene te vermoor nie.
André het Marx van ’n  selfoon wat deur Koen Sr aan hom gegee is gebel om die afspraak te maak om  ’n  kwotasie op 4 Desember 2014 by David se huis te gee, en het hom ook met sy bromponie die dag in die dorp ontmoet en na die huis geneem.
In die huis is hy met ’n  skoktoestel geskok en onder meer met ’n  rubber knuppel en ysterpyp geslaan waarna sy hande en voete met toue vasgebind is. Sy oë en mond is met kleefband toegeplak.
Marx is om sy pinnommer gevra en André het geld uit Marx se rekening gaan trek terwyl die ander in die huis op hom gewag het.
Uit die getuienis het dit geblyk dat nie een van die drie skoolvriende teenwoordig was toe Marx vermoor is nie. Oënskynlik is hulle die keuse gegee of hulle wou by wees.
Nicholai het getuig hoedat hy vir sy twee vriende gevra het of hul “reg” is en dat hy op hul gesigsuitdrukkings kon sien dat hulle nie “ok” was met wat gebeur het nie.
Na ’n rukkie is hulle in die kamer meegedeel dat daar ’n  “ongeluk” was en dat Marx dood is. Marx, is netjies toegedraai in plastiese sakke wat met kleefband vasgedraai is en toe op die Triton bakkie wat hy gery het gelaai. André se bromponie is by die Van Aswegens se huis gelaat, en is hulle daarna na die Kopjeskraalpad waar die liggaam in ’n stormwaterdreineringspyp gedruk is.
Die vyf-stuks is toe na die Mooirivier Mall in Potchefstroom waar op Marx se bankkaart 2 X-box’e en ’n  Kinnect gekoop is, glo omdat hulle gehelp het en kon sê wat hulle wou hê, is getuig.
Uit die getuienis het dit aan die lig gekom dat die drie vriende ’n  vertrouensverhouding met Koenraad Sr gehad het en gereeld saam met hom X-box speletjies gespeel, gekuier en met hom gesels het. David, Nicholai en André het in hul verklarings gesê dat hulle deur Koenraad Sr gedreig is om nie te praat oor die voorval of weg te hardloop nie.
Nicholai het in sy getuienis gesê dat hy bang was vir sy pa omdat hy “geweet het waartoe hy instaat is.” Volgens hom het sy pa gereeld werk gedoen saam met mense “wat gevaarlik was”.
Dr. Vincent de Wet Brandt wat die lykskouing op Marx se liggaam gedoen het nadat hy byna twee weke na sy verdwyning gekry is, het vroeër getuig dat daar minimale geweld was, en dat die dood van Marx versoenbaar is met versmoring. Die liggaam was reeds in ’n  gevorderde stadium van ontbinding.
David het skuldig gepleit op beide klagtes, terwyl beide Koenraad Sr en Jr onskuldig op beide klagte gepleit het. Nicholai pleit skuldig aan die roof maar onskuldig aan die moord.
David se regsspan het aangedui dat hulle wil aansoek doen om borg.

Related Articles

Back to top button