NewsNews

Kommer oor vergiftiging van diere in dorp

Die vergiftiging van diere in en om Parys neem drasties toe; dit het ‘n kommerwekkende probleem geraak. Woensdagnag alleen is drie gevalle by die Parys Dierehospitaal gerapporteer in onder meer Oranjestraat, Schilbachstraat en President Krugerlaan.

Die vergiftiging van diere in en om Parys neem drasties toe; dit het ‘n kommerwekkende probleem geraak. Woensdagnag alleen is drie gevalle by die Parys Dierehospitaal gerapporteer in onder meer Oranjestraat, Schilbachstraat en President Krugerlaan.

‘n Vergiftigde dier vrek op ‘n baie wrede maniere; dit lei tot groot hartseer, ontsteltenis en woede by troeteldiereienaars. Daar word vermoed dat die hoof doel van die vergiftigings huisinbrake en motordiefstalle is.

Ongelukkig vrek nie net  groot, gevaarlike waghond vir wie die gif bedoel is nie , sê dr. Brigitta Wessels, ‘n plaaslike veearts, maar ook die klein huishondjies, katte, hoenders, eende, ganse en voeëls; soms kry diere die gif in vir wie dit nie bedoel was nie. Veeartse in die dorp sowel as die DBV kry gereeld gevalle van siek of dooie diere wat vergiftig is.

Die algemeenste gif wat tans gebruik word is die bekende “Two-Step”. Die regte naam is Temek en sy aktiewe bestandeel is ‘n karbamaat (Aldicarb). Die gif is ‘n landbou plaagdoder wat hoofsaaklik in die aardappelbedryf gebruik word. Volgens mnr. Philip Holtzhausen ,‘n plaaslike geregistreerde verkoper van gifstowwe, word die handel van Temek baie streng beheer. Die middel is geregistreer onder Wet 36 (wat die meeste landboumiddels beheer) en mag slegs verkoop word deur ‘n geregistreerde handelaar.

Die verkoper en koper moet altwee eksamen skryf in die hantering, storing en gebruik daarvan en die stoorplek en verkoopsfasiliteite word eers ge-inspekteer alvorens handel gedryf mag word. Indien ‘n geregistreerde koper Temek sou wou koop word daar presies uitgewerk hoeveel hy vir ‘n spesifieke projek benodig; hy word dan slegs met daardie hoeveelheid voorsien en hy moet kan bewys lewer dat hy die gif reg gebruik het.

Aangesien Temek amper slegs in die aardappelbedryf  gebruik word, word daar in die Parys-distrik volgens mnr. Holtzhausen omtrent geen Temek verkoop nie. Hy vermoed dat dit waarskynlik onwettig uit die aardappeldele van ons land na Parys kom. Die vervaardigers van Temek het die smaak van Temek BAIE bitter gemaak wat die nuwe produk so onsmaaklik maak dat dit selfs in vleis te bitter sal wees om in te neem. Die ou Temek het ongelukkig nie hierdie voordeel nie; vermoedelik is die Temek wat tans in gebruik is nog ou voorraad.

Prof. Botha van die Toksokologie en Farmakologie Departement op Onderstepoort  sê die simptome van karbamaat  of Temek vergiftiging is as volg: oormatige traan- en speekselvloei, ooraktiewe dermaksie d.w.s. dermkrampe, diaree en braking, oormatige slymproduksie in die longe en vernouing van die bronchi wat kan lei tot versmooring, onderdrukking van hartfunksie en -spoed, erge spiertrillings en uiteindelike dood.

Volgens dr. Wessels is ergheidsgraad van die simptome gekoppel aan die hoeveelheid gif ingeneem en die tydsduur wat verstryk het tussen die inname en die behandeling na inname. Behandeling is hoofsaaklik simptomaties d.w.s. algemene teenmiddels per inspuiting, drips, kalmering, koorsbeheer. Braking word geinduseer om te probeer om gifreste wat nog in die maag is uit te bring.

Ongelukkig is behandeling nie altyd suksesvol nie en in sekere gevalle vrek die pasient of die pasient hou permanente fisiese en sielkundige skade oor. Sulke gevalle is baie traumaties vir die pasient, eienaar en behandelende veearts.

Persone wat diere moedswillig vergiftig kan aangekla word van dieremishandeling en persone wat Temek verkoop kan aangekla word van die onwettige besit en handeldryf van gifstowwe.

Temek is ‘n klein grys korrel en is verbasend maklik en goedkoop bekombaar in Parys; kopers koop dit dikwels onder die voorwendsel dat hulle ‘n rotplaag by hulle huise wil uitroei. Vermoedelik vergiftigde diere se maaginhoud kan getoets word vir gifstowwe bv ‘n landbou gifprofiel vir organofosfate, -kloriedes, karbamate en piritroides kos oor die R400; dit is ongelukkig ‘n duur proses en kan tot teleurstelling lei as uitslae negatief terugkom omdat die getoetsde monsterdeel dalk nie besmet was nie. As uitslae positief terugkom help dit ook net as ‘n mens weet wie die hond vergiftig het en ‘n verklaring by die polisie afgelê word.

Indien belangstellendes wil weet hoe Temek lyk, kontak gerus jou veearts wat ‘n demonstrasie monster het. Indien u hond vergiftig is meld dit asseblief by die polisie en die DBV aan sodat daar inligting versamel kan word vir vervolging van die vergiftiger. Indien u hond vergiftig is skakel assbelief dadelik u veearts. Diere wat vroeg behandel word het ‘n redelike kans vir oorlewing.

Moenie terugsit en dink dat hierdie probleem jou dalk nie gaan raak nie! Gevalle van troeteldier vergiftiging word deurlopend in Parys aangemeld. Probeer om liewer jou honde of katte by jou in die huis te laat slaap en net onder toesig te laat uitgaan. Kyk ook daagliks in jou erf sou jy iets vreemds opmerk.

Related Articles

Back to top button