NewsNews

Koepel se wit olifant miljoene krap Unesco om

Die Vredefort-Koepel wat vir Suid-Afrika ʼn erfenis-juweel moet wees waarmee duisende besoekers jaarliks na die land gelok word, het nou ʼn internasionale verleentheid geword waar miljoene rand se belastinggeld die afgelope jare vermors is, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Die moontlikheid word selfs genoem dat Unesco (die opvoedkundige, wetenskaplike en kultuur-organisasie van die Verenigde Nasies) sy klassifisering van die omgewing as wêreld-erfenisgebied kan terugtrek weens die gebrek aan samewerking van die ANC-regering.

IMG_0001
Plaaslike toergidse stem saam. Volgens Jan Fourie wat gereeld groepe plaaslik en internasionaal op toere in die Vredefort Koepel neem, is dit ’n skande dat so ’n groot gebou leeg en vervalle staan, terwyl borde jou daarheen lei. Vir menige toeris is dit onverstaanbaar waarom daar nie interpretasie of inligting oor die meteoriet en gevolge daarvan by die sentrum is nie, sê hy. Dit terwyl prag geologiese uitstallings oor die Vredefort Koepel en baie inligting by die Wits Universiteit beskikbaar is om in die sentrum te kon plaas.
Luidens die Unesco-webwerf is ʼn sperdatum van 1 Februarie vanjaar aan die regering gestel om sekere vereistes na te kom. Dit is nie gedoen nie.
Die Vredefort Koepel het sowat 2000 miljoen jaar gelede ontstaan toe ʼn meteoriet met ʼn deursnee van sowat 10km, die aarde teen’n spoed van sowat 150 000 km/h getref het. Die aarde se oppervlak was toe sowat 17km hoër as vandag.

IMG_0004
ʼn Krater van sowat 100km wyd en veel dieper as 10km is veroorsaak. Erosie het veroorsaak dat dit intussen feitlik verdwyn het. Dit bly steeds die beste voorbeeld van ʼn reuse impaktoneel op aarde en is daarom uiters waardevol vir wetenskaplike navorsing.
Nadat die VF Plus talle klagtes in die verband ontvang het, het die minister van toerisme, mnr. Derek Hanekom op skriftelike vrae geantwoord dat ʼn bedrag van R11,7 miljoen bewillig is vir ʼn besoekersentrum.
Die bouwerk is in Augustus 2008 voltooi, maar die kwaliteit was so swak dat dit nooit in gebruik geneem kon word nie. Minister Hanekom sê dit is so swak gebou dat dit lewensgevaarlik sou wees om die gebou binne te gaan.
Toergidse van Vredefort en Parys wat die gebied gereeld besoek, sê die gebou en die omliggende paaie is totaal vervalle. Die gebou is glo totaal geplunder deur vandale en haweloses het hul intrek daar geneem.
Luidens mediaberigte is altesame R18 miljoen bewillig vir die sentrum en om die gebied toeriste-vriendelik te maak, met onder meer wandelpaaie en inligtingsborde. Nou is daar net die borde te sien.
Uit gesprekke met kundiges soos dr. Craig Smith, uitvoerende hoof van die Geologiese Vereniging van Suid-Afrika, en volgens die webwerf van Unesco, blyk dit dat Unesco die gebied nog net ‘gelys’ het as wêreld-erfenisgebied. Dit was reeds in 2005.
Suid-Afrika moes daarna verskeie stappe volg, soos om die gebied te ontwikkel en om dit deur wetgewing tot ʼn erfenisgebied te proklameer. Eers as hieraan voldoen is, kan Unesco dit tot wêreld-erfenisgebied proklameer.
Unesco self draai geen doekies om in hul skrywes nie, sê die VF Plus, en sê dat die teendeel eerder gebeur het.
Van die ander probleme wat Unesco noem is glo onwettige praktyke, swak of afwesige bestuurstelsels en ʼn bestuurspan, grondwater-besoedeling, veral van die Vaalrivier, diefstal en vandalisme en ʼn gebrek aan toerismebestuur en –toegang.
Unesco het verlede jaar ʼn spertyd van 1 Februarie vanjaar vir die Suid-Afrikaanse regering gestel om aan die vereistes te voldoen, maar uit onder meer minister Hanekom se antwoord is dit duidelik dat voete gesleep word sê die VF Plus.
Dr. Mulder sê die regering sal verantwoording moet doen oor die wanbesteding van die geld.
“Ons wil weet hoe dit aangewend is. Aan wie het meer as R11 miljoen gegaan vir die swak bouwerk? Waar is die ander miljoene wat vir ander ontwikkelings gebruik moes word?”
“Erger nog, die regering sal aan die publiek van Suid-Afrika moet verduidelik waarom hulle oënskynlik geen waarde heg aan iets so belangrik as ʼn wêreld-erfenisgebied nie,” sê dr. Mulder.

Related Articles

Back to top button