HealthLifestyleNewsNewsKids

Onthou jy nog die dae toe albasters ‘cool’ was?

Laat hulle rekenaars uitmekaar haal, karretjies speel, perdry, kettie skiet, stoei, boks, oorlog-oorlog speel, boomklim, eksperimente van ontploffings doen en terwyl hulle dit doen, leer hulle vir die Ewige Lewe - moenie tyd mors met algemene leerstof wat hulle kan Google nie”.

Laat hulle rekenaars uitmekaar haal, karretjies speel, perdry, kettie skiet, stoei, boks, oorlog-oorlog speel, boomklim, eksperimente van ontploffings doen en terwyl hulle dit doen, leer hulle vir die Ewige Lewe – moenie tyd mors met algemene leerstof wat hulle kan Google nie”.
So sê prof. Cilas Wilders, (hoof van die Instituut van Biokinetika en professor in Sportwetenskappe by die NWU) in ’n onlangse berig “Is dit die SEUN of die SISTEEM?” wat gaan oor die manier waarop kleuters, en veral seuns, in kleuterskole onderrig ontvang.
Hy verduidelik die negatiewe uitwerking wat die onderwysstelsel op kleuters se gesondheid het en dat dit al hoe meer lei tot die gebruik van aandag afleibare of antidepressante medikasie onder kinders.
Kinders vandag is in ‘n heel ander stelsel as dié van 20 jaar gelede. Waar kinders in die verlede hul vrye tyd spandeer het met boomklim, legkaarte bou of die versameling van albasters, is vandag se kleuters heeltemal gelukkig met ‘n skootrekenaar of TV- speletjie.
“Ja, tegnologie het oor die afgelope 20 jaar baie verander en het beslis ‘n impak op kinders en waarmee hulle hulself besig hou, maar tog is dit belangrik dat kinders steeds aktief moet wees en nie al hul vrye tyd agter ‘n skerm moet spandeer nie.
“Vandag se kinders moet egter ook tegnologies slim wees, die hedendaagse wêreld vereis dit, en daarom het dit na my mening ‘n plek in kinders se lewe, maar dit moet nie ten koste van ander belangrike ontwikkelingsdomeine, die tyd van die kind oorheers nie,” sê prof. Anita Pienaar, direkteur van die Suid-Afrikaanse Professionele Instituut vir Kinderkinetika en professor by die NWU Skool vir Biokinetika, Reaksie en Sportwetenskap.
“Ek het modderkoekies gebak en tente met my ma se ou lakens en komberse in die kombuis gebou,” sê ’n Facebook gebruiker, Cynobe Chambers. Suzanne Wessels vertel hoe sy haar ma se hakskoene aangetrek het en lipstiffie aangesit het en dan gemaak het of sy ‘n juffrou is.
Nog ‘n Facebook gebruiker, Anel Biggs vertel hoe sy as kind Tazzo’s en sywurms versamel het. Bordspeletjies soos Monopoly en Twister was ook destyds baie bekend onder kinders. “As dit gereën het, het ons met blare bootresies gehou in die reënwater wat teen ’n skuinste afloop,” sê Mariscka le Roux.
Albasters, fietsry, in die pophuis speel, klimraam klim, wegkruipertjie, aan-aan, ‘stuck-in-the-mud’ en vroteier is van die lekker dinge wat kinders 20 jaar gelede gespeel het, maar wat vandag net herinneringe is.
“Kinders speel nie meer met albasters soos in die ou dae nie,” sê Odile Morgan, assistentbestuurder by Reggies in Mooirivier Mall. “Ek onthou vroeër jare het kinders elke pouse albasters gespeel, maar mens sien dit nie meer nie.”
Hoewel Reggies steeds speelgoed soos albasters en legkaarte verkoop, is Playstation en Xbox speletjies baie meer gewild, “kinders sit deesdae net voor die televisie,” sê Odile.
“Ons kinders se speelwêreld het beslis verander en dit het baie gevolge,” sê prof. Pienaar. “Twintig jaar gelede was daar nie selfone nie en nuwe beroepe het ontstaan om selfoonkundigheid in hierdie areas te ontwikkel.” Volgens haar het nuwe beroepe soos kinderkinetika ontstaan as gevolg van die impak wat tegnologie op kinders van vandag het. Sy verduidelik dat waar kinderbeweging in die verlede natuurlik ontwikkel het, word daar nou staatgemaak op kundiges om leemtes in kinders se bewegingskat aan te vul.
Ja, speelgoed en stokperdjies het aansienlik baie verander oor die afgelope 20 jaar, en al is vandag se speelgoed soveel duurder en moderner, klink modderkoekies, sywurms en ‘n “moonbag” vol albasters steeds na die prettiger opsie.

Related Articles

Back to top button