NewsNews

Watertekort steeds kommerwekkend in natuurreservaat

VEREENIGING. - Natuurliefhebbers het die nuus dat die Suikerbosrand Natuurreservaat na ses maande op Jeugdag, 16 Junie, weer sy hekke oopmaak, met ope arms verwelkom.

VEREENIGING. – Natuurliefhebbers het die nuus dat die Suikerbosrand Natuurreservaat na ses maande op Jeugdag, 16 Junie, weer sy hekke oopmaak, met ope arms verwelkom.
Die reservaat het op 26 Januarie toegemaak weens ’n watertekort na een van die waterpypleiding ingegee het. Daar is glo op ’n vorige provinsiale raadsvergadering aangedui dat ’n projek wat in 2009 van stapel gestuur is om nuwe watertoevoerpype na die reservaat aan te lê, nog nie voltooi is nie.
Daar is na bewering R5 miljoen begroot vir die projek, maar slegs R2.5 miljoen is bestee nadat die kontrakteur slegs die helfte van die werk gedoen en toe verdwyn het. Die Suikerbosrand Natuurreservaat beskik oor vier oornaghutte, staproetes, ’n groot piekniekplek en uitkykplekke langs die ringpad van bykans 70km wat deur die reservaat loop. Fietsryers voel ook veiliger om by die reservaat fiets te ry en die reservaat het ook sy eie museum en ekologiese sentrum.Vir tyd en wyl is die reservaat slegs vir dagbesoekers oop. Volgens Roelta Lebolo, hoof van kommunikasie van die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling het talle mense reeds die reservaat besoek sedert dit weer oop is, terwyl Ina Cilliers, die DA se Gautengse woordvoerder oor infrastruktuurontwikkeling gedurende Julie bekommerd was oor die gebrek aan water in die reservaat. Sy meen dat indien daar ’n brand uitbreek daar nie genoeg water sal wees om dit te blus nie en met die Augustuswinde wat op pad is, is daar ’n groot brandgevaar in die reservaat.
Intussen het nog ’n piekniekplek en toeristeroete laas maand by die reservaat oopgemaak vir besoekers om te geniet ondanks die moontlike gevaar van brande wat kan uitbreek.

Related Articles

Back to top button