NewsNews

Munisipaliteit onbewus van DA klag

SASOLBURG. – Die DA het op 28 Julie ‘n kriminele klag gelê teen die Metsimaholo munisipale bestuurder.

SASOLBURG. – Die DA het op 28 Julie ‘n kriminele klag gelê teen die Metsimaholo munisipale bestuurder. Dit is gedoen onder die Water Wet (wet 36 van 1998), seksie 151 (i), vir die versuim om te voldoen aan die bepalings van die wet wat insluit, maar nie beperk is tot, die effektiewe bestuur en behandeling van riool- en afvalwater en die beskerming van varswaterbronne.
Luidens die DA moet die gemeenskap van Refengkgotso in ‘n rioolgevulde omgewing leef en daaronder ly. Hulle huise is oorvloei met riool en die reuk is onuithoubaar. Dit hou ‘n ernstige gesondheidsrisiko vir die inwoners, veral die kinders en beeste in. Die gemeenskap se begraafplaas is ook blykbaar oorstroom met rou riool. Die DA is ook van mening dat die Refengkgotso rioolsuiweringswerke nie oor die kapasiteit beskik om Deneysville se riool te behandel nie en dat dit die rede is vir die massiewe en gereelde rioolstortings.
“In Mei vanjaar het ons die munisipale bestuurder versoek om regstellende maatreëls by die rioolsuiweringswerke te implementeer, aangesien dit gereeld oorloop en die omliggende gemeenskap en plase benadeel. Hy het nog geen positiewe stappe geneem om hierdie situasie te beredder nie, ten spyte daarvan dat die Nasionale Departement van Waterwese R9 miljoen geskenk het om die aanleg op te gradeer.
“Die munisipaliteit het eerder besluit om ‘n pyplyn te bou wat direk van die aanleg na die Vaaldam gaan. Danksy ons pogings, is die bou van die pyplyn gestaak omdat die munisipaliteit nie die nodige permitte kon bekom nie. Saans, om die druk van die aanleg te verlig, aktiveer die munisipaliteit ‘n pompstasie wat die riool in ‘n oop veld inpomp. Die veld lei dan tot in die Taaibosspruit en so vloei die riool dan uiteindelik tot in die Vaalrivier. Daar is verskeie areas waar rou riool tot in die Vaaldam vloei en hierdie varswater hulpbron, wat baie belangrik is, dan besoedel,” sê die DA.
Die Vaaldam is baie belangrik vir die ekonomie en vir verskeie gemeenskappe op sy oewers, veral vir Deneysville, en rou riool wat in die dam inlek bedreig ook Gauteng se watersekuriteit, die omgewing en die belangrikste, die gesondheid en welstand van elke liewe persoon wat van die dam se water afhanklik is.
“Ons hoop dat ons aksie, deur kriminele klagtes teen die munisipale bestuurder te lê, hom sal motiveer om positiewe en konstruktiewe veranderings te maak,” het die DA afgesluit. Dr. Gino Alberts, woordvoerder van die Metsimaholo plaaslike munisipaliteit, het gesê dat hulle as ‘n munisipaliteit nie bewus is van enige klagte wat aanhangig gemaak is teen die munisipale bestuurder nie en dat hulle ook nog geen amptelike kommunikasie in hierdie verband ontvang het nie. “Met betrekking tot die storting van riool in die Vaaldam, daar is absoluut geen manier dat ons, as munisipaliteit, rou riool in die Vaaldam sal pomp nie. Ons is ‘n baie besorgde en verantwoordelike regering en sal nooit ons mense aan ‘n gesondheidsrisiko blootstel deur riool in die Vaaldam te pomp nie. Ons is tans besig om ‘n gebarste pyp by een van ons pompstasies naby die Refenkgotso begraafplaas reg te maak. Ons ondervind vandalisme by ons pompstasies aangesien mense van ons transformators steel wat dan tegniese probleme by die spesifieke stasies veroorsaak. Ons moet die sekuriteit by ons stasie opsterk. Wat die storting van riool by die huise naby die begraafplaas betref, dit is waar ons besig is om die pyp te herstel en teen Woensdag was alle storting wat plaasgevind het, hokgeslaan. Metsimaholo vra om verskoning aan die mense en huise wat geraak is deur die konstruksie en die gebarste pyp by die pompstasie,” het dr. Alberts gesê.

Related Articles

Back to top button