NewsNews

Bonnie en Clyde rig wapen, beroof egpaar helder oordag

Soos ’n wafferse Bonnie en Clyde het ’n baie netjies geklede, welsprekende Afrikaanse jongman en meisie verlede Woensdag helder oordag ’n bejaarde egpaar van Parys in hul seun se huis met ’n vuurwapen aangehou en van kontant en juweliersware beroof.

Soos ’n wafferse Bonnie en Clyde het ’n baie netjies geklede, welsprekende Afrikaanse jongman en meisie verlede Woensdag helder oordag ’n bejaarde egpaar van Parys in hul seun se huis met ’n vuurwapen aangehou en van kontant en juweliersware beroof.
Die egpaar het na hul seun se huis gekyk terwyl hy weg was met vakansie. Net soos die vorige dae is hulle die middag na die huis naby die hangbrug om seker te maak alles is reg daar.
Terwyl die egpaar by die huis was, het ’n nuwerige donkerblou Jetta voor die huis stilgehou en het die skraal jongman en meisie met lang donker hare en swaar grimering baie beleefd kom vra of die meisie die badkamer mag gebruik.
Hulle het gesê hulle is van Sasolburg en het vir ’n tante van hulle in Boomstraat kom kuier. Dié is toe glo nie tuis nie en die badkamernood was groot.
Die egpaar het ingestem en na die meisie wou die jongman ook badkamer toe. Hy roep toe eers die meisie badkamer toe en daarna ook die niksvermoedende vrou wat in die kombuis doenig was, kwansuis om te help met die jongman se maagkrampe
Die vrou het hond se gedagtes gekry en gesê hy moet medisyne in die kombuis kom kry, maar met dié bring hy toe die versteekte handwapen onder sy baadjie te voorskyn en rig dit op die vrou. Die jongman wou geld hê en het gewaarsku dat hy nie graag die wapen wil gebruik nie, maar dat die egpaar moet saamwerk. Die man is gevra om eenkant te bly staan, terwyl die vrou hom moes vergesel na waar haar handsak en beursie was. Die jong meisie het min gepraat. Die R400 in die beursie was nie genoeg nie en hulle wou nog juweliersware hê, waarop die vrou al haar ringe afgehaal en dit gegee het.
Die egpaar is gewaarsku om nie die polisie te skakel nie, terwyl Bonnie en Clyde hul ry gekry het en ’n derde jongman in die motor selfs vir hulle gewaai het.
In 55 jaar se getroude lewe was dit die laaste ding wat hulle geglo het met hulle sou gebeur. Die egpaar is nie beseer nie, maar vertel dat dit net ’n wonder is dat hulle ten spyte van die trauma, kalm kon bly en saamgewerk het, veral omdat die jongman duidelik baie senuweeagtig was.
Net twee weke gelede is nog ’n vrou in die dorp van kontant en juweliersware beroof deur kwansuis voornemende huiskopers.
Mense word weer baie ernstig gewaarsku om onder geen omstandighede vreemdes in jou huis toe te laat nie – ongeag hoe goed gekleed, vriendelik en beleefd of hoe eg die storie mag klink. Maak ook seker jou kinders en mense wie vir jou werk, weet om nie vreemdes in jou huis toe te laat nie.
In al die soortgelyke voorvalle wat nog hier gerapporteer is, was die boosdoeners mense wat op die oog af baie netjies en geloofwaardig voorgekom het. Onthou maar liewer die gesegde dat jy nie iemand op sy baadjie moet takseer nie. As jy enigiemand verdag by jou huis of in jou omgewing sou opmerk, skakel eerder die polisie en rapporteer soveel moontlik van wat jy gesien het.

Related Articles

Back to top button