NewsNews

Plek van veiligheid kom vir kinders, vroue, weggooi babas

Min van ons is dalk bewus van die nood ook hier plaaslik met mishandelde en verwaarloosde vroue en kinders, en kinders wat slagoffers is van huishoudelike geweld.

Min van ons is dalk bewus van die nood ook hier plaaslik met mishandelde en verwaarloosde vroue en kinders, en kinders wat slagoffers is van huishoudelike geweld. Waar gaan hierdie slagoffers heen en waar sal hulle veilig wees? Waar kan daar vir hierdie kinders in ’n rustige omgewing troos te midde van trauma gebied word? Hartseer voorvalle wat meestal na-ure en oor naweke plaasvind.
Dit is die worstelende vrae van polisielede en maatskaplike werkers wat maar van die rolspelers in hierdie proses is om hulp te verleen in gevalle van geweld, verwaarlosing, mishandeling en kinders wat weggegooi word.
Nou is daar hoop nadat die nood deur Colin en Sonja Viljoen raakgesien is en die Emunah Foundation hier gestig is om die probleem aan te spreek in samewerking met die Hope Again Foundation.
Die Emunah Foundation is gestig met 2 doelstellings voor oë. Eerstens om ’n plek van veiligheid vir mishandelde en verwaarloosde kinders daar te stel, sowel as vir vroue wat slagoffers is van huishoudelike geweld. En tweedens om die “Emunah Wall of Life” projek hier te begin om aborsies en pasgeborenes wat agtergelaat word op plekke soos vullishope, in toilette ensovoorts, te help voorkom. Die plek van veiligheid sal wees by Schilbachstraat 81.
Aanvanklik sal eers begin word met ’n plek van veiligheid vir babas tot en met 3 jaar, waarna daar met fase 2 ook voorsiening vir kleuters tot en met tieners gemaak sal word, en laastens ook vir vroue wat slagoffers is van huishoudelike geweld. Vir eers kan ses babas geakkommodeer word. Tans is daar in Parys self nie ’n fasiliteit wat in hierdie behoefte voorsien nie.
Maar dit is nie hier waar Sonja en Colin se droom stop nie. Hul planne vir Emunah Wall of Life is onlangs ook aan die gemeenskap voorgehou met ’n praatjie waar polisielid Michelle Stephenson van Vanderbijlpark wat die Jessica’s Wall of Life projek begin het, meer kom vertel het oor wat die projek behels.
In ’n baie roerende en openhartige gesprek het Michelle vertel hoe sy in 2006 as polisielid uitgeroep is na ’n vullishoop waar sy gekonfronteer is met die harde werklikheid van ’n baba wat weggegooi is op die vullishoop. Met soveel deernis het sy die babalykie uitgehaal, en toegesien dat sy met waardigheid begrawe is soos haar eie kind. Daar het die gedagte posgevat om seker te maak dat elke baba eerder die kans op lewe sou hê as ’n aborsie of om weggegooi te word deur ’n ma wat moontlik voel dat sy geen ander opsie het nie.
Twee jaar later, in 2008, is Jessica’s Wall of Life in Vanderbijlpark opgerig en twee jaar later het sy die eerste oproep van die hospitaal gekry van ’n baba wat hier geplaas is. Sedert 2010 is 16 babas gekry en vir elkeen van hierdie babas kon ’n liefdevolle huis gekry word. Die Wall of Life is ’n “kluis” met ’n voor- en agterdeur. Sodra die voordeur oopgemaak word om die baba in die kluis te plaas, gaan ’n alarm af by die hospitaal of plek waar die muur is, sodat daar dadelik aan die baba aandag gegee kan word. Ultra-violet ligte binne die kluis maak seker dat die temperatuur gunstig is vir die baba. Die baba word dan deur versorgers soos Michelle en haar dogter, of in hierdie geval deur Sonja versorg, totdat ’n geskikte tuiste gekry kan word deur die regte kanale te volg. Tans is daar na raming 80 000 onwettige aborsies in Suid-Afrika en sowat 36 000 wettige aborsies. Dit terwyl dit minder as R30 000 kos om die Wall of Life te bou, en dit vroue ’n veilige anonieme opsie bied terwyl die baba ’n kans op lewe het, eerder as om agtergelaat te word vir dood of mishandel te word. Mense wat meer inligting oor die projek wil hê of graag ’n bydrae wil maak, is welkom om Sonja by 083 696 7410 of Colin by 072 223 7583 te skakel of e-pos te stuur na emunahparys@gmail.com

Related Articles

Back to top button