NewsNews

Kragtariefdebakel: NERSA die sondebok

“NERSA (die Elektrisiteitsreguleerder) het blykbaar kragtariewe vir Ngwathe goedgekeur waarvoor die munisipaliteit nooit aansoek gedoen het nie,” sê rdl. Phillip van der Merwe van die Vryheidsfront Plus.

“NERSA (die Elektrisiteitsreguleerder) het blykbaar kragtariewe vir Ngwathe goedgekeur waarvoor die munisipaliteit nooit aansoek gedoen het nie,” sê rdl. Phillip van der Merwe van die Vryheidsfront Plus.
Dit het verlede Donderdag aan die lig gekom toe hy en DA-raadslid Arnold Schoonwinkel, senior munisipale amptenare ondervra het.
Gazette het vroeër berig Ngwathe se nuwe kragtarief is dalk ongeldig omdat opposisieraadslede oortuig was dit is nie, soos vereis, vooraf deur die Raad goedgekeur nie (Gazette 23 Julie 2015).
Raadslede Van der Merwe en Schoonwinkel het toe aangedring op ’n dringende vergadering van die finansiële komitee, waarin albei dien. Toe dit nie kon plaasvind nie, het hulle met senior amptenare vergader, en Ngwathe se aansoek by NERSA bespreek.
“Dit blyk toe die tarief wat NERSA goedgekeur het, verskil heelwat van dié wat Ngwathe voorgestel het,” sê rdl. Van der Merwe.
NERSA het op navraag toegegee dat daar “tikfoute” in hul goedkeuring was, onder meer die basiese tarief vir klein besighede wat van R80 na R90 verhoog en nie na R639 soos NERSA aanvanklik aangedui het nie.
Dit is onmiddellik reggestel.
Die NERSA-verhoging van die basiese tarief vir kerke, en die verbruikerstarief vir besighede (met 40%) word nou aan NERSA se tariefkomitee voorgelê vir regstelling. Ngwathe het vir ’n verhoging van slegs 12,2% aansoek gedoen, basies dieselfde koers as Eskom se verhoging.
“Amptenare het ons verseker hulle het daarop aangedring dat NERSA die foutiewe tariewe dringend regstel,” sê rdl. Van der Merwe.
Intussen word krag egter teen die “goedgekeurde” tarief verkoop, omdat Ngwathe wetlik verplig is om die tariefskaal wat NERSA goedgekeur het, te gebruik.
Maar intussen duur grootskaalse kragdiefstal ook hier voort. Gazette het verlede maand berig dat raadslede ingelig is dat kragdiefstal onlangs “soos ‘n veldbrand” begin versprei het en dat in sommige gebiede, minder as 10% van verbruikers wettig krag koop.
“Ek wou weet of hierdie probleem as ’n prioriteit beskou word en of Ngwathe dit reeds kon hokslaan,” sê rdl. Schoonwinkel.
Hy sê hy was geskok om te verneem min word nog daaraan gedoen.
“Die redes is, of só het amptenare ons vertel, dat Ngwathe nie geld het om nuwe meters te koop nie, en dat die Raad nog nie besluit het oor ’n moontlike amnestie vir oortreders wat self na vore kom nie.”
Hy sê die betalende publiek kan hiermee hoegenaamd nie tevrede wees nie. “DA-raadslede voer dit nou verder.”
Ook rdl. Van der Merwe meen dat amptenare hul plig versuim as hulle kragdiefstal nie aktief beveg nie.

Related Articles

Back to top button