NewsNews

Die mite van ’n heilige voël

Die Skoorsteenveër/African Sacred Ibis (Threskiornis aetheopicus), is ’n groot wit voël met ’n kaal swart nek en kop en ’n lang krom, tipiese ibis snawel.

Deur Jan Fourie
Die Skoorsteenveër/African Sacred Ibis (Threskiornis aetheopicus), is ’n groot wit voël met ’n kaal swart nek en kop en ’n lang krom, tipiese ibis snawel. Die punte van die vlugvere is ook swart wat ’n swart rand effek vorm wanneer die vlerke oopgesprei is en vandaar die Afrikaanse naam, Skoorsteen-veër (sien foto).
Die kaal dele onder die vlerke vertoon rooi gedurende die broeiseisoen. Aangesien dit die enigste wit ibis in Suid-Afrika is, kan dit nie met enige ander ibis verwar word nie. Baie keer, in die laat namiddag, sien ons hierdie voëls in V-formasie vlieg op pad na hulle slaapplekke toe.
Die voël het sy Engelse naam, Sacred Ibis, waarskynlik te danke aan die mite dat die antieke Egiptenare die voël verafgod het. Die ‘Sacred Ibis’, was gesien as die simbool van wysheid en tower medisyne, asook van die vrugbaarheid van die Nylvallei. Dit het gespruit uit die rol wat die voëls gespeel het om bilharzia te beheer deur die slakke te vreet wat die draers was van die bilharzia parasiete. Bilharzia is ’n siekte waarvoor mediese bewyse bestaan dat selfs die Farao’s daaraan gelei het. Die mense van daardie tyd het soveel eerbied vir die voëls gehad dat hulle gebalsemde karkasse saam met die Farao’s begrawe het. Hulle afbeeldings word ook in baie muurskilderye in die gebied gesien. Die voëls het egter in die 1800’s heeltemal uitgesterf in Egipte.
Die spesie het oor die laaste 50 jaar egter baie toegeneem in getalle in Suid-Afrika. Hulle is ook algemene standvoëls in ons Vredefort Koepelgebied en kan oor die hele gebied by die rivier en ander water-areas waargeneem word, waar hulle soek vir kos in die modder of vlak water. Hulle word nou ook gesien by mensgemaakte omgewings soos rioolplase, afvalterreine en geploegde lande waar hulle aas vir kos. Mens sal soms enkele voëls sien, maar gewoonlik vorm hulle swerms van 5 tot 20 bymekaar. Waar hulle slaap kan honderde van hulle saam met ander ibisse en reiers, in riete en bome naby water bymekaarkom. Die voëls migreer/trek nie regtig nie, maar navorsing toon dat hulle oor die hele Suider-Afrika rondbeweeg.
Skoorsteenveërs se dieet bestaan uit ’n verskeidenheid van insekte, paddas, klein reptiele, vis en afval waarvoor geaas word. Waar hulle broeikolonies deel met ander spesies, sal hulle ander voëls se neste beroof van eiers en kleintjies om te vreet.
Die voëls vorm groot broeikolonies in riete, bosse en bome naby water, saam met ander spesies soos duikers en reiers. Dit is in hierdie omgewing waar skoorsteenveërs, wat gewoonlik stil is, nogal baie geraas kan maak met hyg- en kwaakgeluide.
Hulle is monogame broeiers en die nes is ’n groot platvorm van stokke, riete en takke, en die broeiholte is uitgevoer met sagte materiaal. Die wyfie bou die nes met materiaal wat die mannetjie aandra. As nesbou-materiaal skaars is, sal materiaal sommer van die bure se neste gesteel word.
Die voëls se broeityd in Suid-Afrika is Augustus tot November. Twee tot drie eiers word gelê en die kleintjies broei na 28 -29 dae uit – ’n taak wat deur albei lede van die broeipaar verrig word. In die proses los hulle mekaar gereeld af. Wanneer die kleintjies uitgebroei het, word hulle deur albei ouers gevoer. Vir die eerste 10 dae sal een van die ouers altyd naby die nes bly. Na 21 dae verlaat die kuikens die nes en vorm saam met verskeie ander jong voëls van die spesie, groepe wat steeds naby die broeiplek vertoef. Hier is hulle nog steeds van die ouers afhanklik vir kos. Na 35 dae begin hulle vlieg en na 48 dae verlaat hulle die broeikolonie as onafhanklike voëls.

Related Articles

Back to top button