NewsNews

Vrae oor geldigheid van nuwe kragtarief

Die nuwe kragtarief wat vanaf 1 Julie vir inwoners in Ngwathe gehef word is dalk ongeldig. Só meen rdl. Phillip van der Merwe (VF Plus raadslid) omdat hy betwyfel dat die Raad inderdaad die nuwe tariefskaal goedgekeur het voordat dit aan NERSA (die energiereguleerder) voorgelê is.

Die nuwe kragtarief wat vanaf 1 Julie vir inwoners in Ngwathe gehef word is dalk ongeldig. Só meen rdl. Phillip van der Merwe (VF Plus raadslid) omdat hy betwyfel dat die Raad inderdaad die nuwe tariefskaal goedgekeur het voordat dit aan NERSA (die energiereguleerder) voorgelê is.
Van der Merwe sê ’n tarieflys waarin slegs vir ’n 12,2% verhoging voorsien was, is voorgehou aan raadslede en ook gebruik vir die verpligte openbare deelnameproses wat die aanvaarding van nuwe tariewe moet voorafgaan.
Sedert 1 Julie is die basiese heffingstarief vir gewone sake-ondernemings 15,7% hoër, maar vir “klein” ondernemings skiet dit op, vanaf R80 in Junie tot R639 – ‘n astronomiese styging van 700%. “Maar die verbruikstarief vir klein ondernemings daal, vanaf R1.37 na R1.28, wat nie sin maak nie, ” sê rdl. Van der Merwe aan Gazette. Hy sê kerke loop ook deur. Hul basiese heffing verhoog van R223 tot R639 – dus met 285%. “Hierdie verhogings is nie deur die Raad goedgekeur nie, maar is nou deur NERSA aanvaar.” Hy sê dit sou grof onreëlmatig wees as NERSA ’n tariefstruktuur aanvaar het wat nie aan openbare insette onderwerp was en deur die Raad goedgekeur is nie. “Huishoudelike tariewe styg wel net met 12%, vanaf R1.28 na R1.43 wat klop met die verhoging waarmee Eskom Ngwathe belas het en aanvaarbaar is,” voeg hy by.
DA-raadslid Arnold Schoonwinkel kla ook oor die buitensporige verhogings. “Hierdie skaal is nie aan die publiek voorgelê of aanvaar nie.” Hy sê hy en rdl. Van der Merwe het nou aangedring dat die Raad se finansiële komitee, waarin hulle albei dien, dringend moet bymekaar kom oor die kwessie. “Dan kan ons dit wat lyk na ‘brouwerk’ ondersoek,” sê Schoonwinkel. Die datum van die vergadering was by Gazette se ter perse gaan nog onseker.
Rdl. Van der Merwe het intussen ook by NERSA sterk kapsie gemaak omdat die “astronomiese verhogings” NERSA se eie bo-perk op elektrisiteitsverhogings oorskry. “NERSA het my laat weet hulle ‘ondersoek’ die saak.”
Rdl. Van der Merwe sê hy en DA-kollegas gaan hard veg dat die tariewe aangepas word om binne die toelaatbare perke te val. “Amptenare sal ook moet verduidelik hoe die verhogings soos dit nou daar uitsien, voor NERSA beland het,” sê hy.

Related Articles

Back to top button