NewsNews

‘Huiskopers’ vir pastoor dra suutjies weg

Daar is verlede Donderdag weer ’n voorval in die dorp gerapporteer waar sogenaamde huiskopers die huiseienaar van haar ringe en kontant beroof het.

Daar is verlede Donderdag weer ’n voorval in die dorp gerapporteer waar sogenaamde huiskopers die huiseienaar van haar ringe en kontant beroof het.

Die netjies geklede dame en twee mans, wat Engels vlot praat en met ’n ou gryskleurige motor ry, het gevra om na die huis te kyk onder die voorwendsel dat hulle na ’n huis soek vir die pastoor van die Revolation Church wat hulle beoog om in die dorp te vestig.
Voor die huis was te koop borde en dit was daarom nie vreemd dat die sogenaamde “huiskopers” wat ’n goeie indruk geskep het, sou belangstel nie. Die huiseienaar het die groep vergesel en terwyl sy hulle die huis gewys het, het hulle hulself ongesiens aan haar ringe op haar spieëltafel en kontant uit haar beursie gehelp.

Die diefstal is twee ure nadat hulle weg is ontdek toe die huiseienaar haar ringe wou aansit. Hierdie modus operandi word dikwels gesien en die polisie waarsku dat mense verkieslik eerder van eiendomsagente sal gebruik maak en slegs huiskopers op afspraak saam met die agent in hul huis sal toelaat. Private verkopers moet egter bedag wees daarop dat huise met te koop borde maklike teikens is en dat waardevolle items nooit sigbaar in jou huis moet rondlê nie.

Maak seker jy laat nie die “huiskopers” alleen in jou huis toe nie, en dat jou huishulp en kinders ook bewus is daarvan dat jy nie mense in jou huis wil toelaat sonder jou medewete, en sonder om hulle te vergesel nie.

Soms word daar selfs gevra om net die badkamer in jou huis te gebruik, en dit is net hier waar jy hond se gedagtes moet kry oor die veiligheid van jou en jou eiendom.

Related Articles

Back to top button