CommunityNews

Mense se goedheid ’n troos na kleuter se dood

ROTHDENE. - Om oor die dood van jou kind te kom neem ‘n leeftyd, maar die wete dat jy deur ander ondersteun en met gebede gedra word, help sulke ouers oneindig baie om die seer te verwerk.

ROTHDENE. – Om oor die dood van jou kind te kom neem ‘n leeftyd, maar die wete dat jy deur ander ondersteun en met gebede gedra word, help sulke ouers oneindig baie om die seer te verwerk.

Sandra Lena van Zyl was maar vier jaar oud toe sy op 21 Maart verlede jaar ernstig beseer is by hul huis in Heilbron. In ‘n tragiese ongeluk het ‘n swaar dubbel sementwasbak op haar geval. Sy is twee dae later, op 23 Maart, vroeg die oggend in Bloemfontein se Pelonomie-hospitaal oorlede.

“‘n Oom het met my en Sandra na die Heilbron-hospitaal toe gejaag vanwaar sy later na Bloemfontein oorgeplaas is,” vertel haar ma, Silest. Sy het heelpad saam met Sandra in die ambulans gery en haar suurstofmasker en haar handjie vasgehou en met haar gepraat.

“Sy het my gevra: ‘Mamma, kom ons vra Liewe Jesus om my te help’,” vertel Silest. “Toe het ek vir haar gebid. Die dag daarna het die dokters vir ons gesê sy is okei. Volgens hulle was dit net die neusbeentjie tussen haar ogies wat gebreek was, sowel as haar wangbeentjies en die een kant van haar kakebeen aan die agterkant.”

Die spesialiste en dokters het vir die ouers gesê hulle hoef nie te opereer nie, omdat sy nog klein was en dit self sou regkom.

“Hulle het vir ons gesê daar sou geen permanente skade wees nie. Hulle het haar onder verdowing gehou en vir ons gesê ons moet bietjie gaan rus, dan kon ek die volgende dag (Sondag, 23Maart) haar gaan bad en mooi aantrek,” vertel Silest.

Die volgende oggend om 02:00 het die ouers ‘n oproep gekry met die skokkende nuus dat hul klein poppie oorlede is. Die suster het gesê Sandra het skielik erg begin bloei en gesukkel om asem te kry en sy het toe die dokter gebel, wat gesê het dis niks ernstigs nie, hulle moet haar net dophou.

Die nadoodse ondersoekverslag het meer beserings uitgewys as wat die dokters aanvanklik op die dag van die ongeluk raakgesien het. Die klein lyfie het baie inwendige beserings opgedoen.

Terwyl hulle nog die skok van hul kind se dood verwerk het, het nog ’n terugslag Silest en haar man Pieter getref, toe hulle net na die begrafnis meegedeel is dat hy sy werk verloor het omdat die onderneming waarvoor hy gewerk het, gelikwideer is. Hulle het binne ‘n week alles verloor. “Danksy ons Vader en goeie mense kon ons na Rothdene trek en my man het weer werk gekry,” vertel Silest. Aanvanklik, sonder werk en ’n inkomste, kon hulle nie eens ‘n grafsteen vir hul enigste kind bekostig nie. Silest se ouers het later danksy skenkings en die goedhartigheid van vreemdelinge, ‘n grafsteen by Sandra se graffie gaan opsit. Die steen is geskenk deur ‘n egpaar wat dit self gemaak het en al die pad van Groblersdal af op hul eie onkoste gery het om dit te bring.

Silest se dankbaarheid is groot en sy wil graag hê almal moet weet dat daar steeds goeie mense is wat uit hul pad sal gaan om ander te help. “Die dokter het gesê dat ons nie meer kinders kan hê nie. Hoewel ons teleurgesteld en hartseer is, lewe ons met die herinnering aan ons pragtige kind,” sê Silest.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button