HealthLifestyleNewsNews

Meer as net ’n kameraad

Vredefort het ’n nuwe intrekker en skaars was sy daar of sy is raakgesien.

Vredefort het ’n nuwe intrekker en skaars was sy daar of sy is raakgesien. Venice is ’n jaar en 6 maande oud. Maar sy is veel meer as net ’n troeteldier en kameraad. Sy is die oë en ore van Anna Jordaan. Die pragtige Golden Retriever is die enigste gidshond in die dorp en het die afgelope twee weke nog hard geleer aan die hand van afrigter Joel van Stavel, gidshond instrukteur van die Gidshondvereniging.

Joel het seker gemaak dat Venice sal kan doen wat Anna van haar verwag en dat sy haar omgewing goed ken sodat Anna veilig en gemaklik in Vredefort se strate kan beweeg.

Die Gidshondvereniging gebruik meestal honde wat soos Venice deur hulself geteel is. ’n Geskikte gidshond moet kalm wees met ’n goeie geaardheid, gewillig om te leer, gesond en gehoorsaam. Labradors en Golden Retrievers word verkies omdat baie sukses met hierdie honde as gidshonde behaal is.

Vir die eerste jaar bly die honde by ’n familie (puppy walkers) wat sonder vergoeding vrywillig na hulle omsien en hulle leer om te sosialiseer. Na die jaar gaan die hond terug na die Gidshondvereniging wat ’n kantoor in Johannesburg en Kaapstad het waar ’n ses maande opleidingskursus met die hond gedoen word. Dis hier waar bevele geleer en die hond touwys gemaak word om ’n werk te verrig vir die blinde afhangend van wat die behoefte is.

Ná die 6 maande word gesoek na die blinde persoon wat die beste moontlike passing vir die hond se geaardheid sal wees sodat hond en eienaar as span gemaklik sal kan saamwerk. Die gidshond word gratis beskikbaar gestel aan enige blinde persoon wat sou aansoek doen. Sodra ’n passing gemaak is, word die blinde persoon vir ’n verdere 2 weke in Johannesburg by die vereniging self geleer wat die korrekte bevele is en hoe om die hond te hanteer.

Daarna, sodra die hond in die sorg van die blinde persoon geplaas is, sal die instrukteur nog ’n verdere 2 weke by die blinde se tuiste daagliks afrigting gee om seker te maak die hond is gemaklik in sy omgewing, weet wat verwag word en kan die werk verrig.

Baie belangrik is dat wanneer die gidshond werk deur byvoorbeeld ’n blinde te lei na die gevraagde bestemming, mense nie die hond moet vryf of die aandag aftrek nie. Die hond en die blinde persoon moet voortdurend terwyl daar gestap word, konsentreer om die roete korrek te volg. Enige afleiding verbreek die hond en die blinde se konsentrasie. Die hond self moet ook minstens 3 keer per week werk om opdragte te onthou en word aanvanklik eers net 3 roetes geleer.

Anna het ses jaar gelede haar sig as gevolg van Retinitus Pigmentosa verloor. Terwyl sy nog haar ouers gehad het, kon sy oor die weg kom, maar noudat sy alleen is, is haar bewegings as blinde beperk gewees. Met Venice se hulp sal sy weer onafhanklik en veiliger kan beweeg, gaan kuier en selfs haar sake in die dorp kan doen.

Sy het ’n jaar gelede vir ’n gidshond aansoek gedoen. Om aansoek te doen voltooi jy die vorms wat ook ’n mediese verslag van die aansoeker insluit, en word jou naam op ’n waglys geplaas. Daarna word ook ’n onderhoud met jou gedoen by jou huis om te kyk na die omgewing waar die hond moet werk, water tipe werk die hond sal moet verrig, omstandighede waarin die hond gaan bly en hoe sterk die blinde se bewegingsvermoë nog is. Al hierdie faktore word in ag geneem voordat ’n hond as gidshond aan die blinde toegeken word. Mense wat voorheen gidshonde gehad het, kry voorkeur. Om die hond te beskerm word ’n kontrak met die blinde aangegaan om seker te maak die hond sal versorg en reg hanteer word, want net die ses maande opleiding van die hond alleen kos gemiddeld R10 000, afgesien van al die addisionele koste wat aan die opleiding en plasing verbonde is en kan styg tot R100 000.

Hierdie koste word betaal danksy borgskappe en fondsinsamelings sodat dit moontlik is om die honde gratis beskikbaar te stel. Gemiddeld 50 honde per jaar word aan blindes voorsien. Honde wat nie die opleiding sou slaag nie, word ook weer op ’n waglys geplaas waar gesoek word na geskikte huise vir hulle. En noudat Venice haar pad ken, het dit haar nie lank gevat om seker te maak waar Anna die biltong bêre nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button