CommunityNews

Jong vrou in pad gevind

Potchefstroom - Dit het gelyk asof sy dood is, so stil het sy gelê.

Potchefstroom – Dit het gelyk asof sy dood is, so stil het sy gelê. Toe die personeel van die nooddienste haar probeer help, het sy weer lewe gekry. Dit is die aangrypende toneel wat die Herald op 27 Junie omstreeks 00:30 waargeneem het, toe ’n jong vrou in die pad oorkant ’n bekende kuierplek in die industriële gebied van Potchefstroom gevind is.

Mooirivier Beskerming, ER24, die polisie en die Potchefstroom brandweer was almal op die toneel. Volgens die nooddienste het personeel van die brandweer gesien hoe die vrou in die pad in hardloop, waarna hulle haar agtervolg het om te probeer vasstel waarvoor sy weghardloop. Die volgende oomblik het sy op die sypaadjie neergeval en doodstil gelê.

Personeel van die nooddienste het haar probeer help, maar die vrou het baie aggressief geraak en teen hulle baklei. Nadat sy onder bedwang gebring is, is sy deur ‘n ambulans van ER24 na die Potchefstroom Hospitaal geneem. Volgens die vrou se verloofde wat hulle uit die kroeg moes gaan haal, was sy baie kwaad vir hom omdat hy gedrink het.

“Sy het toe self begin drink, sy is net dronk. Dit is nie die eerste keer wat sy so aangaan nie,” het die verloofde gesê. Daar is op die toneel vermoed dat sy moontlik ook dwelms gebruik het. Haar verloofde het gesê dat sy ses maande gelede die dwelm crystal meth (tik) gelos het. Hy was oortuig daarvan dat sy dit nie meer gebruik nie.

Die kuierplek se uitgooiers het die nooddienste bygestaan. “Dit is sleg dat daar so baie jong- mense is wat regtig baie dom besluite neem,” het Christiaan Haefele van Mooirivier Beskerming gesê.

*’n 22-jarige man van Klerksdorp is later die aand in Peter Mokabastraat in sy voertuig gevind waar hy gelê en slaap het.
Hy was vermoedelik onder die invloed van alkohol.

Related Articles

Back to top button