20 jaar geledeBlogsNewsOpinions

Meer as R3 miljoen maandeliks buite stad bestee

In ’n ondersoek wat die Herald in 1995 in samewerking met die Adviesburo vir Kleinsakeondernemings laat doen het, is beraam dat nagenoeg R3,3 miljoen maandeliks net aan kruideniersware alleen buite die stad bestee word.

In ’n ondersoek wat die Herald in 1995 in samewerking met die Adviesburo vir Kleinsakeondernemings laat doen het, is beraam dat nagenoeg R3,3 miljoen maandeliks net aan kruideniersware alleen buite die stad bestee word.

Op die voorblad van die Herald van 16 Junie 1995 is berig dat beter pryse en beter diens van die belangrikste redes was waarom baie mense buite die stad gaan koop het.

Die ondersoek was deel van ’n projek saam met die destydse sakekamer om mense aan te spoor om hul geld plaaslik te bestee. Uit die ondersoek kon sakelui ook hoor waarom mense soms eerder byvoorbeeld in Klerksdorp gaan koop. Die projek was bekend as Hou-die-rand-in-Potchefstroom. Hoewel die situasie in die stad wat betref inkopiesentrums en verskeidenheid van produkte heelwat verander het sedert 1995 sou dit interessant wees om te weet in watter mate Potchefstromers steeds buite die stad koop, al is van die produkte in die stad beskikbaar.

Dié betrokke uitgawe se voorbladfoto was van drie manne wat hulself reggekry het vir die Springbokke se eerste wedstryd vir die 1995 wêreldbeker-toernooi. Ook op die voorblad was die ontstellende berig dat sedert die polisie ’n kinderbeskermingseenheid tien dae tevore in die stad oopgemaak het, reeds 29 klagtes van beweerde misdade teen kinders ontvang het.

’n Interessante berig in dié uitgawe het gegaan oor ’n besoek aan ’n grot waar familie van wyle mnr. Danie Cilliers, ook bekend as Proppie Cilliers, met tye tydens die Anglo Boere-oorlog weggekruip het. Mnr. Cilliers, wat jare lank by Sanlam in die stad was, was ’n afstammeling van Sarel Cilliers wat die Gelofte by Bloedrivier afgelê het. Sy dogter is Susan Cilliers, ’n senior joernalis van Beeld wat in Potchefstroom woon.

Die grot is naby Volksrust in wat toe bekend was as Kwaggaskop. ’n Groep van Potchefstroom, waaronder ook Danie se neef, dr. Johannes Cilliers, het met ’n Land Rover wat Daly Land Rover geborg het, die tog aangepak en die grot gevind. Die grot is nie groot nie en vir ’n familie om dae lank in so ’n grot te moes wegkruip kon beslis nie aangenaam gewees het nie. Die skrywer van die artikel, JM Strijdom, is intussen ook oorlede.

In die volgende uitgawe, dié van 20 Junie 1995, sê die stadsraad in die hoofberig hulle is moeg vir vandalisme. Dit volg nadat dit bekend geword het dat die Raad jaarliks duisende bestee as gevolg van beskadiging aan eiendomme, plante en bome. Net vroeër in die betrokke maand is berig oor 22 jong bome wat in Esselenstraat deur vandale afgebreek is. Plante wat by die ingange na die stad geplant word, word oornag gesteel.

Ook op die voorblad van dié uitgawe word berig dat ’n gesin ’n noue ontkoming gehad het toe ’n elektriese kombers ’n gat in ’n matras gebrand en hulle dit eers agtergekom het toe die hele kamer en dele van die huis al vol rook was.

Related Articles

Back to top button