HealthLifestyleNewsNews

Vyfjarige moet op vuil bed in hospitaal lê

’n Vyfjarige seun moes op ’n vuil bed in die Potchefstroom hospitaal lê terwyl hy om hulp gewag het.

’n Vyfjarige seun moes op ’n vuil bed in die Potchefstroom hospitaal lê terwyl hy om hulp gewag het.

Op 31 Mei het me. Natacia Maree haar vyfjarige seun, Alexander, hospitaal toe geneem nadat hy verskriklik begin braak het. Volgens Maree is sy met die intrapslag by die hospitaal baie sleg behandel. “Ek het na ongevalle gegaan om net eers uit te vind wat ek moet doen. Ek is toe deur ’n vrouedokter uitgejaag.

“Jy mag nie hier wees nie, gaan wag buite,” het sy vir my gesê. Ek het haar vriendelik gevra ek wil net uitvind wat ek eers moet doen, maar toe word die deure in my gesig toegemaak. ’n Manlike verpleër het gesê ek moet kom sit toe hy sien ek dra my seun oral rond. Hy was baie vriendelik en behulpsaam.

Ek het ‘n leêr gaan oopmaak maar die persoon wat my daarmee gehelp het is ook nie van die vriendelikste nie, groet glad nie, is eintlik gewoon onbeskof,” vertel Maree. Volgens haar was daar bloed op die vloere asook op die linne van die bed van ’n vorige pasiënt. Sy het ongeveer 20 minute in die kamer vir die dokter gewag.

“Ek het hom vertel wat is fout en wat gebeur het. Hy is toe daar uit en het na’n ruk met medisyne teruggekom. ’n Rukkie later kom hy weer aan om bloed te trek by my kind. So steek hy my kind twee keer om te probeer bloed trek. Ek moes ook nog help met die bloed trek, ek moes die buise oop- en toemaak. In die stadium het my kind weer opgegooi en ek het my kind gehelp. My kind het gedraai van die bed af om op te gooi. Daar was geen silwer bakke of niks nie. Die dokter het vir my kind gesê om in die mediese afval houer op te gooi wat vol mediese afval was,” vertel Maree.

Teen 22:00 is Natacia geroep om X-strale toe te gaan. Hier het sy vir 20 minute gesit en wag, al was dit net sy en ’n ander man wat X-strale moes laat neem. Natacia en Alexander is terug ongevalle toe om te wag vir die uitslae van die bloedtoetse en X-strale. “Om middernag het hulle my geroep en gesê hul sien niks fout met die bloed uitslae en X-strale nie. My kind het weer begin naar raak. Verward het ek ‘n bak of iets gesoek waarin hy kan opgooi. Twee dame dokters wat reg voor ons by die tafel gesit het, het ons aangekyk en net verder geskryf en geen hulp verleen nie. Die verpleegsters reg agter ons gee het ook nie omgegee nie. Hulle het aangegaan met hul praatjies. Een het geskree vir die dokter ‘docter the child is throwing up again.’ Die dokter het bloot net gesê ‘there is nothing wrong with him give him the medicine’. Hul sit net daar waar my kind weer in ‘n asblik moes opgooi,” vertel Maree.

In totaal het Maree ongeveer vier ure in die hospitaal spandeer. Volgens die hospitaal se woordvoerder, mnr. Modiri Mompati, wys hulle rekords dat die pasiënt om 20:36 in gekom het, alhoewel hy op die sisteem geel gemerk is (nie-dringende gevalle wat binne 60 minute gesien moet word) en kinders kry voorkeur by Potch hospitaal, daarom is hy na oranje gemerk (dringende gevalle, maar nie lewensgevaarlik wat binne 10 minute gesien moet word). “Teen 20:45 is hy deur ’n dokter gesien, die pasiënt is teen 23:15 ontslaan. Wat beteken die totale behandelingstyd was 139 minute. Die teiken vir behandelingstyd wat deur die nasionale gesondheidsdepartement gestel is, is 240 minute,” het Mompati gesê. Volgens Mompati het die hospitaal streng infeksie voorkoming en beheer praktyke in plek wat sal keer dat enige pasiënt op vuil linne lê of in asblikke braak.

“Dit was ’n baie traumatiese ervaring vir ons gewees,” sê Maree. Maree het binne vier dae die rekening van die hospitaal ontvang.

Related Articles

Back to top button