HealthLifestyleNewsNews

Student sterf aan breinvliesontsteking

Sy was ’n rots vir haar gesin, het die kamermaat van ’n eerstejaarstudent wat weens die aansteeklike meningokokkale meningitis (breinvliesontsteking) dood is, aan Beeld gesê.

Sy was ’n rots vir haar gesin, het die kamermaat van ’n eerstejaarstudent wat weens die aansteeklike meningokokkale meningitis (breinvliesontsteking) dood is, aan Beeld gesê.

Die student, Leana Labuschagne, van die dameskoshuis, Oosterhof, het ook ’n huldeblyk van die primaria van dié koshuis op Facebook ontvang. Dit lees: “Liefste Leana, hoe neem mens afskeid van een van ons eie. Vir elke glimlag, herinnering, daarwees & jy wees.

“Ons harte is swaar, maar dankie vir al die mooi waarmee jy ons agtergelaat het om te onthou. Aan elke vriend, vriendin, familielid en naasbestaande ons dra julle in ons stilgebed. Mag julle vertroosting vind in die liefde van Christus. “Oosterhof sal altyd aan jou dink & dankbaar wees. “Dankie vir die voorreg om vir ses maande te kon deel in jou lewensreis, en tot ons jou weer sien sal ons verlang, maar verlang is okay – dit beteken ons onthou darem nog. En wanneer ons vanaand ons koppe neerlê om te rus, weet ons dat dieselfde God oor ons waak – dit maak die verlange bietjie beter.

“Rus sag by God pragtige mens. ..Jou naam dra ons altyd met ons saam”, het Anri Boshoff, Oosterhof primaria geskryf. Leana is ’n oud-leerling van Hoërskool Waterkloof. Beraders van die Potchefstroomkampus se Ingryp-ondersteuningsdienste het studente van Oosterhof Maandag na Leana se dood bygestaan. As voorkomende maatreël het alle inwoners van Oosterhof ook ’n enkeldosis voorkomende medikasie, 500 mg Ciprofloxacin, ontvang. Hulle is ook ingelig oor hoe die siekte versprei en hoe om voorkomend op te tree.

“Dit is ongelooflik hartseer om so ‘n pragtige jongmens te verloor en ons harte gaan na haar vriende en familie uit.
“Ons wil wel ieder en elk verseker dat hierdie ‘n geïsoleerde geval is, dat alles moontlik gedoen is om die siekte te bekamp en dat die Potchefstroomkampus nie ‘n breinvliesontsteking-krisis beleef nie,” het dr. Emile Kotzé, kampusgeneesheer, gesê. Prof. Herman van Schalkwyk, kampusrektor en prof.

Dan Kgwadi, vise-kanselier van die Noordwes-Universiteit het beide hul medelye teenoor haar familie en vriende uitgespreek. Die simptome van breinvliesontsteking verskyn hieronder en indien enige van dié simptome ervaar word, word persone aangeraai om dadelik hul huisdokter te kontak.

Die Universiteit het benadruk dat daar nie ‘n krisis op die kampus is nie en dat eksamens voortgaan soos normaal. Die Universiteit het Woensdag aan die Herald gesê geen verdere aanmelding van die siekte het intussen voorgekom nie.

Wat is meningitis (breinvliesontsteking)? Dit is ontsteking van die weefsel wat die brein en rugmurg bedek. Meningokokkale meningitis is ‘n bakteriese infeksie en dit word as die meer gevaarlike tipe meningitis beskou. Verhoogde gevalle van infeksie kom gedurende Mei tot Augustus en September voor. Indien dit nie behandel word nie, kan dit tot permanente skade ly soos doofheid en selfs die dood.

Simptome:
* Erge hoofpyn
* Naarheid en braking
* Hoë koors
* Oë is uiters ligsensitief
* Stywe en seer nek
* Onbehandelde simptome kan stuiptrekkings, velinfeksies en verlies aan bewussyn insluit.

Verspreiding:
Meningokokkale meningitis versprei deur druppelbesmetting.
Die bakterieë word oorgedra deur hoes, nies asook om aan besmette areas te vat en daarna aan jou mond, neus of oë te raak. Maklike maniere om jouself te beskerm
* Bedek jou mond en neus wanneer jy nies of hoes.
* Moenie rook nie (dit versprei in die rook wat jy uitblaas).
* Moenie persoonlike items soos lipstiffie of lipvogroom deel nie.
* Moenie ‘n roomys, drankies, kos of eetgerei deel nie.
* Vermy plekke waar groot groepe mense bymekaarkom.
* Vermy persoonlike of intieme kontak.

Is daar medikasie beskikbaar?
Ja, voorkomende medikasie is beskikbaar en indien vroegtydig gediagnoseer, sal ‘n pasiënt volkome herstel.
Indien jy in direkte kontak met die student was, kan jy eenmalig ‘n Ciprofloxacin (500mg) tablet gebruik, wat beskikbaar is by apteke of die Gesondheidsentrum.

Indien die siekte nie aandag geniet nie, kan ‘n pasiënt se simptome baie vinnig vererger.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button