EntertainmentNewsNews

Minister praat oor regruk van sukkelende munisipaliteite

Danksy toenemende druk, ook van die Parys Ontwikkelingsforum met sy jarelange hofgeding teen die Ngwathe munisipaliteit, blyk dit dat grondwetlike ingryping by sukkelende munisipaliteite soos Ngwathe, uiteindelik momentum kan kry.

Danksy toenemende druk, ook van die Parys Ontwikkelingsforum met sy jarelange hofgeding teen die Ngwathe munisipaliteit, blyk dit dat grondwetlike ingryping by sukkelende munisipaliteite soos Ngwathe, uiteindelik momentum kan kry.

Planne vir ’n regrukplan vir die land se munisipaliteite is Donderdag onder leiding van president Jacob Zuma voor die presidensiële koördineringsraad voorgelê vir veral munisipaliteite met van die swakste oudit verslae. Die minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, Pravin Gordhan, het gesê grondwetlike ingryping by die munisipaliteite, soos lankal ook deur die Forum bepleit word, is nie uitgesluit nie.

Gordhan het egter gesê dat oplossings gekry moet word vir elke munisipaliteit se unieke probleme. Hy het die probleme by munisipaliteite toegeskryf aan politieke onstabiliteit waar ampsdraers nie oor die weg kan kom nie in sommige gevalle, terwyl ander administratiewe of strukturele probleme het en nie ’n behoorlike inkomste basis nie. Soms kan dit ook toegeskryf word aan bedrog, korrupsie en ongerymdhede wat ’n rol speel, het hy gesê.

Gordhan het gesê sekere munisipaliteite is reeds onder administrasie geplaas volgens grondwetlike bepalings wat hiervoor voorsiening maak. Hy het gesê samewerking sal ook van provinsies gekry moet word om saam met die munisipaliteite die databasis van behoeftiges wat vir gratis dienste in aanmerking kom, na te gaan.

Gazette het verlede week berig dat samewerking nou ook gekry is van alle rolspelers, ook die munisipale verteenwoordigers, wat vir die eerste keer teenwoordig was by die laaste taakspan vergadering wat ingevolge ’n hofbevel maandeliks gehou moet word met die oogmerk om ’n sogenaamde “regrukplan” vir Ngwathe te implementeer.

Positiewe terugvoer is by die taakspan vergadering gekry waaroor Gazette verlede week volledig berig het. Die Forum het reeds op 22 Mei ’n skrywe aan COGTA se provinsiale kantoor in Bloemfontein gerig waarin by monde van ’n prokureurskrywe verwys is na die hofbevel ten gunste van die Forum op 5 Junie 2014, en bevestig op 23 Oktober 2014, waarvolgens Ngwathe duidelik nie sy verantwoordelikhede en verpligtinge nakom nie wat betref die taakspan.

Daar is toe ook in ander skrywes gevra vir ’n afspraak met die Vrystaatse premier, die LUR van COGTA, die Forum se verteenwoordigers en regsadviseurs, die munisipale bestuurder en kundiges vir ’n voorlegging om die omkeerstrategie te verduidelik vir implementering. Die Afrikaanse Handels Instituut (AHI) sou voorts gepoog het om vir die Forum ’n afspraak te kry met minister Pravin Gordhon oor die Eskom-kwessie.

Intussen was dit teen Gazette se druktyd nog nie bekend of Eskom Ngwathe se afbetaalplan aanvaar nie, maar het die Ngwathe woordvoerder, mnr. Steve Naale bevestig dat amptenare van Eskom gister met die Ngwathe bestuur en ander leidende rolspelers in die onderhandelinge oor die Eskom-rekening, sou ontmoet. Hy het onderneem dat die munisipaliteit dan ’n verklaring sal uitreik.

Verlede week is ook berig dat uit verskeie oorde kommer uitgespreek is oor die haalbaarheid van die afbetaalplan wat aan Eskom voorgelê is.

Related Articles

Back to top button