Editor's choiceNewsNews

“Mank” begroting voorwaardelik aanvaar

Ngwathe se stadsraad het op ’n spesiale raadsvergadering in Vredefort verlede Vrydag die nuwe begroting vir die 2015-2016 finansiële jaar aanvaar na toegewings aan die opposisie.

Ngwathe se stadsraad het op ’n spesiale raadsvergadering in Vredefort verlede Vrydag die nuwe begroting vir die 2015-2016 finansiële jaar aanvaar na toegewings aan die opposisie. Aanvanklik het die DA en die Vryheidsfront Plus die begroting (asook ’n afbetaalplan vir Ngwathe se enorme Eskomskuld, tans R360m) as “wensdenkery” verwerp.

In antwoord hierop het burgemeester Joey Mochela onthul dat Eskom vroeër die oggend in effek ’n ultimatum aan haar gestel het: die Raad moet ’n afbetaalplan binne ure goedkeur en voorlê. So nie sou Eskom reeds Vrydagmiddag bestraffende beurtkrag in Ngwathe instel en die krag daagliks afskakel, soggens en saans.

Sy en senior ANC-raadslid Kau Khumalo het die opposisie gevra om dit te help verhoed. In ruil het hulle aangebied dat die spesiale taakspan van prominente ANC-raadslede wat sedert twee weke gelede toesig hou oor die opstel van ’n haalbare skuldafbetaalplan, sal aanhou funksioneer. Dit sal ook uitgebrei word om DA-raadslid Arnold Schoonwinkel in te sluit. As oud-dosent in finansies op MBA-kursusse is hy die DA-segsman oor munisipale finansies.

Voorheen was dit ’n eenpartykomitee met slegs ANC-raadslede. Die taakspan sal nagaan hoe finansiële bestuur verbeter kan word, met hulp en insette vanaf senior amptenare van die provinsie.

“Vir my het dit nogal geklink Eskom wou bloot ’n afbetaalplan hê, maak nie saak of dit haalbaar is of nie,” sê Schoonwinkel, “anders begin hulle Ngwathe straf.” Die DA en die VF Plus het toe besluit om nie teen die begroting en die afbetaalplan te stem nie, mits ’n verbeterde begroting binne drie maande aan die Raad voorgelê word.

Die verbeterde begroting sal dan hopelik al die opposisie se kwelpunte oplos. Kwelpunte sluit in wanbetaling van diensterekeninge, diefstal en verkwisting van aangekoopte elektrisiteit, swak finansiële bestuur en administrasie, asook wensdenkery oor inkomste.

Rdl. Phillip van der Merwe (VF Plus) sê sy besluit om die begroting en die afbetaalplan voorwaardelik te steun was ‘n kompromie. “Volgens wet moes Ngwathe voor 31 Mei ’n begroting aanvaar. Ons kan die aangepaste begroting later steeds verwerp, of verbeter waar dit tekortskiet.”

Hy sê Vrydag se afbetaalplan aan Eskom is totaal onrealisties. Volgens hom is daar “geen manier” waarop Ngwathe tans uit sy verkoopsinkomste selfs net Eskom se maandrekening voluit kan betaal nie.

“Die burgemeester en haar span sou darem vandag (Donderdag) verdere hulp by ministers en amptenare probeer verkry,” voeg hy by. DA-koukusvoorsitter Carina Serfontein sê die DA veg ook op parlementêre vlak vir die regte van betalende inwoners. “Dis tyd dat die munisipaliteit sy eie huis in orde kry sodat betalende inwoners nie verder ly onder wanbetalings en wanbestuur nie.”

Volgens die begroting styg erfbelasting en tariewe matig. Inwoners sal voortaan 5.8% meer betaal vir dienste soos water en riool, en minstens 12.2% vir elektrisiteit.

Laasgenoemde mag egter heelwat meer styg omdat Eskom intussen NERSA (die Energiereguleerder) versoek het om ‘n styging van 25%. Die nuwe tariefskaal tree op 1 Julie in werking.

Related Articles

Back to top button