LifestyleNewsNewsReligion

Geloofstapper draf 20 260 km kaf

VANDERBIJLPARK. - Verskeie terugslae in ‘n middeljarige man se lewe het hom laat besluit om die lewe soos hy dit geken het, agter te laat en ‘n staptog vir sy geloof te begin.

VANDERBIJLPARK. – Verskeie terugslae in ‘n middeljarige man se lewe het hom laat besluit om die lewe soos hy dit geken het, agter te laat en ‘n staptog vir sy geloof te begin.

Vir Jurie Pieters (49) het die lewe op 7 September 2013 net een te veel geword en het hy net met sy geloof in die hart, begin stap om mense te inspireer.Jurie het in 2009 sy vrou en tweeling dogtertjies in ‘n motorongeluk verloor. Hy het sy Bybel verbrand en sy geloof opgegee. Toe, asof die lewe hom nie genoeg geknou het nie, word hy in 2012 by ‘n kitsbank in Kaapstad geskiet. Gelukkig het die koeël net deur sy lies en maag gegaan en kon hy nadat hy gehospitaliseer is, weer herstel.

Dit was nog nie die einde nie. In Januarie 2013 het hy ‘n beroerte gekry en in Julie dieselfde jaar is hy met breinkanker gediagnoseer. Jurie het alles opgegee, was verpletter en wou selfmoord pleeg, maar hy het besef hy moet net aangaan. Sy geloof in die Here het versterk en hy het in September 2013 begin stap.

“My doelwit is om mense te inspireer om positief te wees,” sê Jurie. Intussen het hy die land deurkruis en tot dusver 20 260 km gestap. Op sy staptogte het hy by verskeie radiostasies, kerke en skole motiveringspraatjies gelewer.
“Ek bekommer my nie oor beurtkrag, die petrolprys, instandhouding of geld nie.”

DSC_5549 (Large)

Volgens hom sorg die Here vir hom. “Daar is verskeie wonderlike mense in ons land, party gee en party neem. “Ek was skaars uit Kaapstad op die begin van my staptog toe ‘neem’ hulle my selfoon en horlosie tydens ‘n rooftog.”Sy wonderlikste ervaring was toe hy voor die tyd op OFM gepraat het en die dag toe hy in Vredefort instap, het die mense hom reeds geken en is hy baie bederf.“Ek voel gesond, die dokters het gesê hulle gee my twee jaar om te leef.

Dit is volgende maand twee jaar,” sê Jurie. Hy het egter ‘n terugslag beleef toe sy sig baie versleg het. Nicky Jansen van Vuuren van Vanderbijlpark het hom na dr. Daan Nortjè geneem wat sy oë gratis getoets het. Die bril kos hom R3 000, wat Jurie nie het nie.

Nicky het Jurie deur ‘n vriend, Gys Overvliet ontmoet. Gys het Jurie by Vaal Mall gesien en hom oor hom ontferm.
Hy het hom huis toe geneem en hom baie bederf. Jurie wil weer die pad vat, maar Nicky en Gys het hom aangeraai om eers sy bril te kry en ten minste ‘n ordentlike slaapsak, voor hy weer die wind en weer trotseer.

* Enigiemand wat kan help kan Jurie by 060 323 8680 of Nicky by 083 744 7711 kontak. Nicky het ook vir Jurie ‘n profiel op Facebook geskep en lesers kan gerus sy wedervaringe volg. (Tik net Jurie Pieters in).

Related Articles

Back to top button