EntertainmentNewsNews

Gered van die dood

Die afgelope week is drie honde deur die DBV van ’n gewisse dood gered.

Die afgelope week is drie honde deur die DBV van ’n gewisse dood gered.

Bones, Bella en Lucy is al drie veilig by die DBV en besig om aan te sterk. Bones, die boerboel, so genoem omdat sy ribbes so uitgesteek het toe hy opgelaai is, is deur ’n “teler” in Ikageng vrywillig aan die DBV oorhandig. Volgens Sonè Engelbrecht, veldinspekteur van die DBV, was Bones vasgeketting in baie vuil toestande. Al was daar water in sy bak, kon hy as gevolg van die ketting nie by die water uitkom nie.

Bones se eienaar wou glo geld maak deur met hom te teel. Engelbrecht het aan hom verduidelik wat dit alles behels om met honde te teel, asook die koste wat daarmee gepaardgaan, waarna die eienaar ingestem het om Bones aan die DBV te oorhandig. Bones het ongeveer 29kg geweeg toe hy by die DBV aangekom het. ’n Gesonde boerboelreun weeg gewoonlik ongeveer 50kg.

Bella, kort vir “Bellator”, Latyns vir vegter, is in die straat in Promosa opgetel. ’n Lid van die gemeenskap het die DBV deur middel van Facebook laat weet van Bella. Dié kruisras hondjie is nog baie jonk en toe die DBV haar ingebring het, het die veearts, dr. Ninette Leistner, haar slegs ’n 30 persent kans op oorlewing gegee.

“Sy was baie ontwater en baie maer. Sy het ook baie luise en ek vermoed dat sy dalk bosluiskoors ook het. Verder lyk dit of sy dalk ’n heupfraktuur opgedoen het. Ek weet nie of dit ’n ou besering is nie. X-strale sal geneem moet word om dit te bevestig,” het dr. Leistner gesê.

Volgens Darren Kruger, voorsitter van die Potchefstroom DBV, sterk Bella goed aan hoewel sy nog gemonitor word.
“Sy eet en drink darem al so ‘n bietjie self. Die feit dat ’n lid van die gemeenskap ons laat weet het, is vir ons baie positief. Ons probeer sover moontlik bewusmaking doen en dit wys ons net dat dit wel werk,” het Kruger gesê.

Lucy is ’n pitbull, wat minder as 10kg geweeg het toe sy by die DBV aangekom het. ’n Gesonde pitbull-teef weeg ongeveer 28kg. Volgens Engelbrecht het hulle haar in ’n hok gekry waar sy nie eens die son kon sien nie. Die eienaar het haar ook aan die DBV afgeteken. Lucy was gelukkig om aangeneem te word deur Cheryl Bosman.

“Sy tel elke dag ’n bietjie gewig op en is nie meer so bang vir mense soos wat sy aan die begin was nie,” sê Bosman. Na aanleiding van dié diere se lot het Fishmonger besluit om te help. Hulle sal 5% van elke rekening vir etes by hulle aan die DBV skenk. Vir dié skenking om plaas te vind moet net ’n plakker op die rekening aangebring word.

Plakkers kan by Daly, Pedigree Paws en by die DBV afgehaal word.

Bones, die boerboel wat ’n “teler” van Ikageng aan die DBV oorhandig het.
Bones, die boerboel wat ’n “teler” van Ikageng aan die DBV oorhandig het.
Bella van Promosa wat slegs ’n 30% kans op oorlewing gehad het.
Bella van Promosa wat slegs ’n 30% kans op oorlewing gehad het.

Related Articles

Back to top button