HealthLifestyleNewsNews

Driejarige klop kanker

MEYERTON. - Sedert geboorte het Montinique Pienaar (3) gewys sy is ‘n vegter van formaat en nou het sy daarin geslaag om kanker ook te oorwin.

MEYERTON. – Sedert geboorte het Montinique Pienaar (3) gewys sy is ‘n vegter van formaat en nou het sy daarin geslaag om kanker ook te oorwin.

Die sprankelende jong dogtertjie is met ‘n teratoom (’n gewas wat bestaan uit onder meer hare, tande en weefsel) gebore wat uitwendig by haar stuitjie gegroei het. Toe haar ma, Alicia (27) vir ’n sonar gaan toe sy 30 weke swanger was, het dokters die gewas opgemerk.

Met geboorte het ontinique maar ‘n skrale 1.1kg geweeg met die gewas so groot soos ‘n rugbybal, wat ook 1.1kg geweeg het. Sy was slegs drie dae oud toe sy die eerste keer geopereer is in ‘n poging om die gewas te verwyder. Daarna is sy ‘n maand in die intensiewe-sorgeenheid van die Morningside Kliniek in Sandton opgeneem voordat sy huistoe kon gaan.

Tuis was dinge normaal en die Pienaars ‘n doodgewone gesin met ‘n nuweling in die huis. Verlede Oktober het Montinique egter begin kla oor haar ruggie wat seer is. “Ons het gesien daar is ‘n klein knoppie en haar dokter toe geneem. Verskeie toetse en skanderings is gedoen om te bepaal wat die probleem kan wees.

Dokters het die slegte nuus met Montinique se ouers gedeel dat die gewas inwendig groei en sy dringend ‘n operasie moet ondergaan. “Die gewas het teen ‘n versnelde tempo gegroei en die uitslag van die biopsie het getoon dat dit kwaadaardig is,” sê Louis (28), Montinique se pa.

Die klein lyfie het drie chemoterapie-sessies gehad om die gewas te laat krimp voor dit op 13 Maart verwyder is. Voordat sy ontslaan kon word het sy longontsteking opgedoen en is sy 13 dae in die intensiewe-sorgeenheid opgeneem en daar is vir haar lewe gevrees.

Chané Valentine tree tydens die pretdag wat vir Montinique gehou word op 5 Junie by Laerskool Handhawer op.
Chané Valentine tree tydens die pretdag wat vir Montinique gehou word op 5 Junie by Laerskool Handhawer op.

Montinique het skaars van die longontsteking herstel toe sy erge koors ontwikkel het en sy moes verdere chemoterapie ondergaan. “Ons leer regtig baie by haar, sy het nog nie een dag gekla dat sy seer het nie. Sy is nou net bietjie skrikkerig vir grootmense omdat sy dink hulle gaan haar seermaak,” sê Alicia.

Dit was ‘n baie traumatiese tyd vir die Pienaar-gesin. “Mens hoor verskriklike goed oor chemoterapie en daar is ‘n lang lys van newe effekte, maar ons is nou gelukkig by die laaste sessie,” sê Louis. “God is groot en hy het ons deur die tyd gedra en haar gesond gemaak,” sê Alicia.

Daar is ook ‘n bidgroep op Facebook vir Montinique gestig. Louis en Alicia wil graag elkeen bedank vir hul ondersteuning en gebede. “As dit nie vir die Here en ons ouers was nie, weet ek nie hoe ons dit sou hanteer nie.”
Montinique gaan die week vir haar laaste chemoterapie-sessie en daarna ‘n maandelikse opvolgbesoek om seker te maak die gewas groei nie terug nie.

Die Pienaar-gesin se mediese fonds betaal ook nie al die uitgawes nie en die rekenings stroom in. Om die rede word daar op 5 Junie, op Montinique se verjaardag, ‘n pretdag by die Laerskool Handhawer gehou. Die pretdag begin om 13:00 en Chané Valentine gaan by die geleentheid optree. Daar sal heerlike eetgoed en hope pret vir die jongklomp wees.

Almal word genooi om die dag te ondersteun om sodoende fondse in te samel vir Montinique se mediese onkostes.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button