HealthLifestyleNewsNews

Kommer oor Koppies se watergehalte

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Maandag, 25 Mei watermonsters by die Hoërskool Sarel Cilliers en die Dibaseholo Primêre Skool in Koppies geneem.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Maandag, 25 Mei watermonsters by die Hoërskool Sarel Cilliers en die Dibaseholo Primêre Skool in Koppies geneem. Dit het gevolg nadat AfriForum talle klagtes van ontevrede inwoners oor die dorp se watergehalte ontvang het.

“Daar is bevind dat ʼn hoë konsentrasie nitrate in die water teenwoordig is wat ʼn moontlike gevaar vir menslike gebruik kan inhou. Die twee watermonsters is deur ʼn SANAS-geakkrediteerde laboratorium ontleed,” het Lambert de Klerk, assistent-koördineerder van AfriForum, gesê.

Lede van die gemeenskap beweer dat talle skoliere siek geword het weens die besmette water. Inwoners het ook gesê dat die water vir bykans ʼn week lank geelbruin was.

“Dit is onaanvaarbaar dat die gemeenskap se gesondheid in gedrang is weens swak drinkwaterkwaliteit. Die munisipaliteit moet verantwoordelik gehou word vir die mense wat siek word en moet dadelik plan maak om die kwaliteit te verbeter,” het De Klerk bygevoeg. AfriForum het die munisipaliteit 48 uur gegee om skoon water aan die mense te voorsien.

“Indien ons opvolgtoetse bewys dat die water steeds besmet is, sal ons ʼn strafregtelike klagte teen die munisipale bestuurder open,” het De Klerk gesê.

Related Articles

Back to top button