EntertainmentNewsNews

Luisterryke orrelklanke in Vredefort gevier

Die NG Gemeente Vredefort, die oudste gemeente in die Ring van Vredefort, is gestig in 1882 en is vanjaar 133 jaar oud. Die geleentheid sal onder meer die naweek met ’n luisterryke orrelfees by die kerkgebou gevier word.

Die NG Gemeente Vredefort, die oudste gemeente in die Ring van Vredefort, is gestig in 1882 en is vanjaar 133 jaar oud. Die geleentheid sal onder meer die naweek met ’n luisterryke orrelfees by die kerkgebou gevier word.

Die pragtige ou sandsteenkerk is in April 1923 ingewy. Vandag spog die tuin met meer as 600 spierwit Iceberg roosbome, en die kerk self met ’n pragtige August Förster vleuelklavier van eikehout, wat met groot vrug gebruik word in die konserte wat gereeld hier gehou word.
Generaal C.R. de Wet was ’n ouderling van die gemeente en het in 1904 £30 van die £60 vir die eerste orreltjie in die ou kerkgebou (vandag is dié gebou die kerksaal) geskenk. Die gemeente het in 2013 dié orreltjie teen R6 000 teruggekoop en hy sal hierdie naweek in die kerk te siene wees.

In die raadsaal staan ’n lieflike ou harmo-nium, wat in die verlede dikwels die kerkgebou ingedra is, wanneer die krag af was tydens die erediens. Hy sal óók die naweek in die kerk wees. Die “nuwe” kerk het in 1931 weer ’n orrel gekry wat uiteindelik aan die NG gemeente van Jeffreysbaai verkoop is toe die huidige drie-manuaal orrel met sy 2026 pype in 1975 aangekoop is.

Prof. Albert Troskie is gevra om die disposisie (beplanning) van die orrel te doen. Dit was ’n natuurlike keuse om hom te vra om weer as gasorrelis op te tree by hierdie naweek se twee feesgeleenthede wat die orrel se veertigste verjaarsdag vier.

Dié orrel is wyd bekend as ’n wonderlike instrument en orreliste van oraloor die land doen moeite om op hom te kom speel. Prof. Gerrit Olivier, prof. Anthony Melck, prof. Wim Viljoen, prof. Dalene Kruger, Zorada Temmingh en Ockie Vermeulen is ’n paar van die bekendes wat in die onlangse verlede sy pragtige klawers kom kielie het.

Die orrel se verjaarsdag word die hele naweek gevier:
Saterdagmiddag (6 Junie) om 15:00 is daar ’n gratis konsert met ligte orrelwerke deur Albert Troskie. Die pragtige jong sopraan, Marilize Hattingh, gaan bekende arias (O sole mio; Time to say goodbye, Funiculi funicula, Nessun dorma) sing en die geleentheid gaan verder versier word deur trompet- en fluitspel (Anthony Duffin en Karel Steyn). Na afloop van die konsert kan mense gerus ’n glasie sjerrie saam met die kunstenaars geniet.

Sondagoggend (7 Junie) om 09:15 begin Albert Troskie reeds speel en dan volg daar die een na die ander musikale hoogtepunt.
Marilize Hattingh, Anthony Duffin en Karel Steyn is weereens op die program. Vredefort en Parys se eie Marli Krüger en Erna Rademan sal die Deo Gloria koor dirigeer met drie groot werke, onder meer Va pensiero uit Nabucco.

Erna, Anthony and Karel sal ook die pragtige Highland Cathedral speel. Daar sal ook geleentheid wees vir die gehoor om saam te sing. Na die diens sal sop en brood bedien word.

Vir enige navrae kan Erna Rademan geskakel word by 082 565 1085.

Related Articles

Back to top button